Die Atlantis-ATKV-tak het vandeesmaand vroue by ’n geleentheid bederf. Foto: David Rossouw


“Elke vrou is ’n unieke blom met hul eie stuifmeel, wat hul eie blom voort­bring en dit is die soort blom wat veral ongenadelose manne se snare moet raak en hul houding teen weer­lose vroue en kinders onherroeplik verander.”

Dít is die boodskap wat die ATKV se Atlantis-tak Saterdag 14 November oorgedra het.

Die organisasie het dié geleentheid geskoei op die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dié veldtog word jaarliks tussen 24 November en 5 Desember gehou.

Ten spyte van ’n gevoel van magteloosheid teen die wreedaardige moorde, verkragtings en mishandeling teen vroue en kinders die afgelope maande in Atlantis, Darling, Mamre en Pella, was almal se gevoel dat alles nie verlore is nie.

Die boek, ’n Vrou in elke blom geskryf deur Aletta Lubbe, handel oor vier eienskappe van die vrou wat met vier blomme vergelyk word – die roos, angelier, protea en die aronskelk.

Dit was ook die tema van dié geleentheid.

Die klem het geval op vroue se weerloosheid, wysheid, behulpsaamheid, standvastigheid, oorkombaarheid asook haar onmisbaarheid in enige gemeenskap.

Tydens dié praatjie is die vroue beskryf as uniek wat sterk staan onder enige omstandigheid, wat baie dinge kan weerstaan, maar wat ook teen die gevare van die samelewing beskerm moet word.

Die uitbeelding van die bekende blomsoorte deur die verskeie sprekers het gaste opnuut laat besin oor die belangrik van vroue en kinders binne ’n gemeenskap en dat hul gerespekteer moet word.

Annie Cruywagen, die plaaslike takvoorsitter, sê sy hoop die geleentheid maak ’n impak op inwoners se lewe.

Altesaam 16 vroue is spesiaal vir die geleentheid uitgekies om bederf te word. Die bederf het rieldans-kussinkies, krale en geskenkbewyse ingesluit.

“Ons wil graag ons dank en waardering uitspreek, aan onder meer die volgende borge: Natasha Carlse van NRT Beauty Salon, Marushka Lewis, Shirene, Beauty Salon Reviva, Jonese Abels en Eranay Jacobs,” het Cruywagen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article