Joshua Swarts was een van die betogers voor die hospitaal en sê die swak diens het tot sy vrou, Harriet, se dood gelei. Foto: Murphy Roberts


“Ek sou nooit in my wildste drome kon dink sy sou nie terugkom nie.”

Joshua Swarts (42) sê hy is steeds geskok nadat hy sy lewensmaat van 10 jaar Wesfleur-hospitaal toe geneem het, maar sonder haar huis toe moes keer.

Volgens Swarts het hy Harriet Michaels (41), ’n Lupus-arthritis-lyer, Woensdag 15 Junie hospitaal toe geneem, maar is sy kort daarna weer ontslaan. Hulle is gesê om twee dae later terug te kom vir uitslae van die toetse.

“My saamleef-vrou was ’n pasiënt van die Groote Schuur-hospitaal en moet daagliks ’n handvol pille gebruik.

As gevolg van die pandemie het hulle haar na Atlantis oorgeplaas, en dit is waar ons probleme begin het.

“Ons sukkel van dag een af met medikasie wat nooit beskikbaar is nie en sonder enige inkomste moes ek maar raap en skraap om die noodsaaklikste pille by die apteek te koop,” vertel hy.

“Ek glo die hospitaal het my vrou vermoor,” vertel die gemeenskapswerker, wat na mishandelde diere omsien.

Harriet, wat reeds van haar vingers en tone verloor het, moes die dokter elke maand sien, verduidelik Swarts.

“Ek het haar die volgende oggend vroeg teruggeneem hospitaal toe toe sy weer siek geraak het, en terwyl die land Jeugdag vier, moes Harriet agt ure sit en wag,” vertel Swarts.

Hy verduidelik dat Harriet se internasionale normaliseerde ratio (bloeddikte) te hoog was.

Tydens aanvanklike observasie kon personeel geen bloeddruklesing kry nie, wat reeds die gevaarligte moes laat flikker het, maar steeds het hulle haar laat sit en wag, vertel ’n emosionele Swarts.

“Ek het ná my Jeugdag-toesprake by twee verskillende saamtrekke my vrou gekry waar sy steeds gesit het sonder dat enige dokter al na haar gekyk het.

“Dit is waar ek begin uitvaar het teenoor die personeel,” bieg hy.

Volgens Swarts het Harriet haarself natgemaak, “maar hulle het gemaak asof sy net ’n gewone hoofpyn het”.

“Dit is onaanvaarbaar dat pasiënte hier so behandel moet word, en ek gaan dit gewis nie so los nie,” sê Swarts, en blameer die agt uur lange wag en die hospitaal se triage-proses vir Harriet se dood.

“Toe ek ’n griefskrif teen hulle ingedien het, het hulle my gebel en gesê hulle het haar as ’n ‘kode geel’-pasiënt, wat nie in lewensgevaar is nie, behandel. Maar my vraag is – hoe kan jy my vrou as ’n ‘kode geel’-pasiënt behandel as jy nie ’n volle triage gedoen het nie?”

Inwoners het intussen voor die hospitaal begin betoog en eis antwoorde en verandering van die departement.

Dr. Nomafrench Mbombo, die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, het na afloop van die voorval gesê haar departement sal voor einde Julie terugvoer aan inwoners gee en sê ’n gemeenskapsvergadering sal belê word om die klagtes wat geopper is, te bespreek.

Mbombo sê ook haar kantoor het geen formele klagtes gekry nie, maar beskou die situasie as ernstig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article