“Ons gaan brand en vragmotors en busse met klippe bestook!”
Só het ’n vrou in ’n Whatsapp-boodskap gesê wat haar in die sop laat beland het. Die plaaslike vrou, wat haar as Jessica Hendricks in die boodskap voorstel, se stemboodskap het groot opslae gemaak.
Kapt. Lisa Munro, polisiewoordvoerder, sê ’n 46-jarige vrou is aangekeer en het in die Atlantis-hof op aanklag van aanhitsing tot geweld verskyn.
Die boodskap volg ná die onlangse betogings oor behuising in Witsand en daarna Avondale en Saxonsea.
Die boodskap lui: “Tien dae is reeds verby en steeds geen terugvoering van raadslede. Inwoners, ek vra almal se hulp, want ons moet nou optree. Ons moet die agterpad brand en alle paaie toemaak.
“Ons gaan enige voertuig wat Atlantis inkom, met klippe bestook, want niemand neem ons ernstig op nie,” het sy voorts in die boodskap gesê.
Volgens Munro duld die polisie geensins mense wat geweld aanhits nie. Sy het bevestig dat geen geweld plaasgevind het nie.
Nora Grose, die subraad 1-voorsitter, sê gesprekke met verskeie groepe inwoners word gereeld gehou. Grose sê wat die behuisingskwessies betref, is die GAP-behuisingsprojek reeds in ’n gevorderde stadium en fase twee van Kanonkop word binnekort uitgerol.
Die verdagte het in ’n tweede stemboodskap gesê haar boodskap oor die sluiting van paaie “was net ’n grap”.




