Charles Pellis (43) se liggaam is in Ceresstraat gekry.


“Here, hoekom het hulle hom vermoor? Here, hy het niemand seergemaak nie. Here, as ek iets verkeerd gedoen het, hoekom het U my nie gevat nie?”

Dit was die hartverskeurende woorde van ’n familielid van een van twee vermoorde mans in ’n skietery in Avondale, wat die tonge behoorlik los het.

Verskeie mense is erg getraumatiseer deur die voorval.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval ongeveer 02.00 Woensdagoggend 21 Augustus plaasgevind en ondersoek die polisie twee klagtes van moord.

Volgens Munro is die motief vir die moorde onbekend.

Charles Pellis (43) en Gevon September (30) is al twee op die toneel dood en hul liggame is meer as 500 m van mekaar af gevind. Volgens ’n betroubare bron het Pellis, die pa van twee, Maandag 19 Augustus in die land aangekom. Hy werk in Brasilië en sou weer op 10 September teruggaan.

Volgens die bron het die twee vriende die dag gekuier en was sy laaste woorde nog dat hy nie laat gaan terugkom nie, maar hy het nooit weer sy familie gesien nie.

Vriende en familie van die twee kan ook nie presies sê wat gebeur het nie en die moontlikheid van ’n wraakaanval word op sosiale media genoem. Volgens gerugte het die aanval moontlik te doen met die dubbele moord onlangs in die gang van Penelope- en Paragonstraat.

Die skieter, wat homself aan die polisie oorgegee het, is vermoedelik familie van Pellis. Munro kon egter nie die bewering bevestig nie.

Weskus Nuus het egter vertroulik verneem dat die twee oorledenes by ’n kuierplek was en die twee vermeende moordenaars ’n saamrygeleentheid gegee het. Munro kon dit ook nie bevestig nie en sê die polisie ondersoek alle leidrade.

Pellis, die pa van ’n tweejarige en ’n vier maande oue baba, word op sosiale media as “vriendelik” en iemand wat gereeld mense onthaal het, beskryf. Vrae of dit ’n wraakaanval, ’n kaping wat skeefgeloop het en of net moord was, het tot dusver geen antwoorde opgelewer nie. Geen verdagtes is teen druktyd aangekeer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article