’n Strafregtelike saak ingevolge die wet op infrastruktuur is ná die diefstal van ’n Eskom-transformator geopen.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het plaaslike polisiebeamptes op inligting oor verdagtes met ’n transformator in hul besit gereageer. Twee verdagtes van onderskeidelik 24 en 28 jaar oud is Vrydagaand, 2 Junie om 21:00 op ’n plaas buite Darling aangekeer en deur die plaaslike polisie in hegtenis geneem.

Die verdagtes was volgens Filander besig om ’n transformator uitmekaar te haal. Hulle het die daarop volgende Maandag in die landdroshof in Malmesbury verskyn, waarna hulle op waarskuwing vrygelaat is. “Die ondersoek was onvolledig omdat die eienaar van die transformator nog nie in daardie stadium opgespoor kon word nie, en geen klagte deur ’n klaer aangemeld is nie,” verduidelik Filander.

Die polisie het intussen kodes op die gesteelde item nagegaan, wat die eienaar as Eskom Brackenfell geïdentifiseer het. Die saak word tans deur die provinsiale polisie ondersoek.

Nuwe inligting het intussen aan die lig gekom dat die voorsitter van die plaas, wat in staatsbesit is, glo opdrag aan die verdagtes gegee het om die transformator op te sny. Die wag wat in beheer van die ingangshek van die plaas is, is ook glo deur die voorsitter opdrag gegee om die verdagtes toegang tot die plaas te gee.

Die voorsitter ontken glo die aantygings. Die waarde van die transformator is sowat R600 000.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article