Dit gons steeds oor wie die nuwe subraad 1-voorsitter gaan wees.
Weskus Nuus het vertroulik verneem Ian Nielson, die voormalige onderburgemeester en nou proporsionele raadslid, is die posisie aangebied. Volgens die bron het Nielson, wat ook die voorsitter van verskeie komitees is, glo die aanbod van die hand gewys.
Nielson het aan Weskus Nuus gesê hy is nooit vir die pos genader nie.
Volgens Lyndon Khan van die burgemeester se kantoor is die aanstelling vertroulik en sal ’n aankondiging gedoen word sodra dit gefinaliseer is.
Volgens die bron verstaan hulle nie hoekom dié posisie in so baie geheimsinnigheid gehul is nie.
Allister Lightburn, die wykraadslid in wyk 29, word in plaaslike kringe as ’n geskikte kandidaat beskou en word uitgesonder as die “enigste DA-raadslid met geloofwaardigheid” in subraad 1. Dié raad is leierloos nadat die voormalige voorsitter, Nicky Rheede, as raadslid bedank en haar in die buiteland gevestig het.
Dit gons op sosiale media oor hoekom ’n voorsitter nog nie gekies is nie. Die DA-beheerde subraad het die meerderheid met net een opposisieraadslid.
Anastatia Davids van die Cape Coloured Congress (CCC), die opposisie in subraad 1, sê sy ondersteun ook Lightburn as moontlike voorsitter.
Davids sê die ander raadslede is nie so sigbaar soos Lightburn nie en baie van die inwoners ken hulle nie. Sy sê ook dit is tyd dat die voorsitter uit die plaaslike gemeenskap moet kom – iemand wat inwoners se uitdagings en nood ken en verstaan.
’n Tussenverkiesing sal vir wyk 107 gehou moet word voordat ’n voorsitter aangestel kan word.
Lightburn het Weskus Nuus na die partystrukture verwys en sê die burgemeester gebruik sy diskresie om ’n kandidaat aan te wys.


