Die aansoekproses van kleinskaalse vissers om visvangregte te bekom, sal van voor af moet begin.
Dít was Woensdag 31 Augustus die beslissing van die Wes-Kaapse hooggeregshof. Kleinskaalse vissers wat dus hul vissersregte in 2016 ontvang het – geldig vir die 2016-2019-tydperk – sal heraansoek moet doen. Die proses is slegs vir vissers wat toe hul visvangregte ontvang het.
Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, het vroeër die hof genader om die proses te hersien ná vele klagtes van vissers oor die geldigheid van die proses. Klagtes het die akkuraatheid en regverdigheid van die toekenning van die regte bevraagteken.
Die hersiening is in 2019 van stapel gestuur en daar is bevind die verifikasieproses was “heeltemal onvoldoende”. Onakkurate datavaslegging, ’n gebrek aan eenvormige kriteria vir verskillende vissersgemeenskappe en verlore aansoeke was net van die probleme met die toekenningsproses.
Volgens die departement sal sessies nou met plaaslike vissersgemeenskappe gehou word om te help met die proses.
Aansoekvorms sal nou uitgedeel word en daarna sal registrasie en verifikasie plaasvind, waarna provinsiale lyste bekendgestel sal word.

