Ondersteuners van verkragtingslagoffers sê hulle sal met elke verskyning by die hof wees om hul steun aan slagoffers en hul families te wys. Foto: Murphy Roberts


Die 46-jarige voormalige rugbyafrigter van Mamre wat hom as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen en sodoende slagoffers geteiken het, het Woensdag 6 Oktober weer in die hof verskyn. Die verdagte is op 29 Julie aangekeer nadat nog ’n klaer ’n klagte van verkragting teen hom aangemeld het. Hy verskyn nou op vyf aanklagte van verkragting en verskeie van die besit van en vervaardiging van kinderpornografie.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sal die verdagte op 2 Desember weer in die hof verskyn nadat die verdediging gevra het vir uitstel om die nuwe klagtes te bestudeer en met die verdagte te konsulteer.

Die verdagte, wat reeds op R10 000 se borgtog vrygelaat is, het glo sy personae gebruik om slagoffers te kry om onder meer eksplisiete foto’s van hulself aan hom te stuur.

Die jongste slagoffer het ná byna vier jaar die ys gebreek en haar ouers op Vadersdag vertel wat gebeur het.

Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven-organisasie, wat die families en slagoffers ondersteun, is hulle bewus van nog slagoffers wat egter nie na vore wil kom nie.

“Ek wens die jongmeisies wil oopmaak, want dit kan net voordelig wees aangesien professionele berading beskikbaar is,” vertel Passenz.

Die verdagte is tans onder huisarres totdat die saak afgehandel is. Hy mag net sy woning vir werk verlaat, om begrafnisse by te woon of in die geval van ’n mediese noodgeval.

In dié gevalle moet hy die ondersoekbeampte oor sy bewegings inlig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article