David Lotz, die voormalige waarnemende hoofstaatsaanklaer by Atlantis-hof, is 10 jaar tronkstraf opgelê vir kinderpornografie.
Drie jaar van die vonnis is opgeskort vir vyf jaar.
Die 44-jarige Lotz is Maandag 18 November ná ’n pleitooreenkoms in die Parow-streekhof gevonnis op 157 aanklagte van kinderpornografie en een aanklag van seksuele aanranding.
Die voormalige aanklaer, wat in Malmesbury woonagtig is, is in Desember 2016 deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is dat hy in besit van kinderpornografie is.
Volgens kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het die ondersoek in Oktober 2016 reeds begin, ’n lasbrief is uitgereik om die aanklaer se kantoor en woonstel te deursoek.
“Die polisie het 125 onsedelike foto’s en video’s van kinders op die aanklaer se telefoon en rekenaar gekry,” het van Wyk gesê.
Lotz, wie se naam ook in die register vir seksuele oortreders sal verskyn, is deur die landdros ongeskik verklaar om met kinders te werk en ’n vuurwapen te besit. Die woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, het hierdie vonnis verwelkom.

