Voorgestelde begroting: Wat beteken dit vir Atlantis-inwoners?


’n Voorgestelde begroting vir die Stad Kaapstad se 2017-’18 finansiële jaar is verlede Dinsdag deur die skadu-burgemeester van Area-Noord, Suzette Little, aan inwoners van Atlantis, Table View, Philadelphia, Du Noon en Klipheuwel voorgelê by die Robinvale-gemeenskapsaal.

Die voorgestelde kapitaalbegroting vir 2017-‘18 is R6,8 miljard (15% van begroting) en die operasionele begroting beloop R37,5 miljard (85% van begroting). Dit maak die totale begroting vir die nuwe finansiële jaar R44,3 miljard.

Dit is die eerste begroting na die implementering van die organisatoriese ontwikkelings- en transformasieplan, wat in Augustus 2016 bekendgestel is.

Burgemeester Patricia de Lille sê die organisatoriese ontwikkelings- en transformasieplan het ten doel om beter dienslewering aan inwoners te verseker deur die regering nader aan inwoners te bring en bevorder aanspreeklikheid by amptenare.

Little het aan inwoners verduidelik die organisatoriese ontwikkelings- en transformasieplan is op 11 prioriteitareas gebaseer, insluitend uitstekendheid in basiese dienslewering, veilige gemeenskappe, geïntegreerde gemeenskappe en ander.

De Lille sê die voorlegging van die voorgestelde begroting direk aan inwoners bevorder ook deursigtigheid. “Dit wys presies hoeveel geld in jou area spandeer word en hoe die prioriteitsareas gebruik is om die allokasies te doen,” het De Lille gesê.

Van die groot projekte wat vir die Atlantis-omgewing beplan word in die nuwe finansiële jaar, wat op 1 Julie in werking tree, is:

  • Fase 2 van die Witsand-behuisingsprojek – R1 miljoen
  • Opgradering van parke in Atlantis – R300 000
  • Opgradering van die Atlantis-begraafplaas – R100 000
  • Fase 2 van die Kanonkop-behuisingsprojek – R20 miljoen
  • Waterwerke-uitbreiding – R20 miljoen
  • Witsand-reservaatontwikkeling – R14,3 miljoen
  • Atlantis-industriële gebied – nuwe hoofsubstasie – R3 miljoen

Inwoners kon ook tydens die vergadering hul insae lewer rondom die voorgestelde begroting.

’n Inwoner, Charmaine Roberts, het op haar beurt gesê sy wag reeds langer as 30 jaar vir ’n huis in Kanonkop. “Die burgemeester het jare gelede al belowe die probleem gaan uitgesorteer word, maar ons wag steeds.” Little het geantwoord die beplande Fase 2 van die Kanonkop-behuisingsprojek sal die groot behuisingsprobleem in Atlantis help aanspreek.

Pinky Masege van Witsand het aan Little gesê, Witsand benodig sy eie skool, kliniek en biblioteek. “Ons kinders moet skool toe loop en word daagliks beroof. Vir jou kind om gebruik te maak van die biblioteek moet hulle per taxi reis, wat ekstra onkostes beteken. ’n Mobiele kliniek kom ook slegs een keer per week na die gebied en die een suster wat daar is, kan net ’n sekere aantal pasiënte sien.”

Little het gesê die Stad Kaapstad is nie verantwoordelik vir die bou van skole nie, maar sy sal haar bes probeer om kliniekdiente meer toeganklik te maak vir inwoners.

Waldy Kastoor van Atlantis het op sy beurt die raadslede bedank vir wat hulle tot dusver vermag het. Hy het hulle ook uitgedaag om meer gratis Wifi hotspots te implementeer om sodoende Internet-toegang meer toeganklik te maak. “Jy kan net opgevoed word indien jy inlig-ting ontvang, die Internet is ’n goeie bron, maar data is baie duur.”

Little het ook inwoners, wat aan die kriteria voldoen, gemaan om gebruik te maak van die toelaes en kortings wat die Stad aan sekere inkomstegroepe bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article