Twee onskuldige seuns is Saterdag 26 Februarie deur vermeende bendelede afgemaai.

Volgens Tyrese Adams se familie het hy groot planne gehad. “Ek wil nooit betrokke raak in die goed wat hier in ons court aangaan nie, want ek wil ’n pilot word,” het hy aan sy familie gesê.

Tyrese (17), van Canary Place in Dura, se vriend Joel Roberts (16) wou op sy beurt weer ’n brandweerman word. Hul drome sal nou nooit waar word nie.

Joel, wat ’n hanetree van sy huis lafhartig van agter geskiet is, wou net na die huiswinkel oorkant die pad gaan toe drie vermeende skieters hom van agter skiet.

Tyrese, wat op daardie tydstip reeds by die winkel besig was om lekkergoed te koop, het vermoedelik omgekyk toe ’n skoot hom in die hart tref.

Volgens sy ouma en grootmaakma, Cheryl Thomas, het hy net uitgestap en langs die winkel inmekaargesak. Dié gr. 10-leerder aan Robinvale Sekondêr het op die toneel gesterf.

Nisha Roberts, Joel se ma, sê hy het net gou sy kos gelos en gesê hy wil winkel toe gaan.

“My kind het nooit sy kos kom klaarmaak nie,” sê sy hartseer.

Terwyl trane oor haar bleek wange rol, vertel Roberts: “Die gemorste het net begin skiet sonder om te kyk. Ja, ons woon in ’n bendegeteisterde gebied, maar nie almal hier behoort aan ’n bende nie.”

Joel, wat in gr. 10 by Proteus Sekondêr was, was opgewonde oor sy skooljaar aangesien hy eers drie weke gelede plek by die skool gekry het.

Volgens ’n betroubare bron is die aanval op die twee tieners dalk ’n wraakaanval nadat twee vermeende leiersfigure van ’n bende die vorige week in ’n huis afgemaai is. Dié twee is in Palmerlaan, Avondale, geskiet nadat iemand aan die deur geklop en begin skiet het. Dit kon egter nie deur die polisie bevestig word nie.

Volgens kapt. Lisa Munro, plaaslike polisiewoordvoerder, is geen verdagtes in die twee voorvalle aangekeer nie en word vier klagtes van moord ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article