Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het die terugkeer na voltydse onderrig in skole verwelkom.
Die kabinet het Maandag 31 Januarie aangekondig dat alle skole na voltydse onderrig moet terugkeer nadat ’n rotasie-stelsel sedert die uitbreek van die koronavirus gevolg is. Alle leerders meld van hierdie week af voltyds vir skool aan. Schäfer sê die tyd wat skole verloor het, hou nie net implikasies in vir akademiese vordering nie, maar vererger ook maatskaplike kwessies soos swangerskappe en die risiko van skoolverlating. Ouers moes alternatiewe reëlings tref wanneer hulle werk, of as hulle nie kon nie, moes hulle hul kinders sonder toesig laat, wat veiligheidsrisiko’s veroorsaak het.
Schäfer sê sy het ook gevra dat die kwessie van kinders wat maskers dra, heroorweeg word. Sy hoop die ramptoestand is binnekort agter die rug.
“Dit is tyd dat ons leer om met die koronavirus saam te leef en dit as ’n sektor en as provinsies verantwoordelik te bestuur, sodat ons so ver as moontlik na normaliteit kan terugkeer.”




