Met president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die land nou vlak 2 betree en die verbod op sigarette en alkohol gelig gaan word vir ekonomiese redes, het duisende inwoners in Atlantis ’n sug van verligting gegee.
Inwoners was uitgebuit tydens die verbod en die pryse van sigarette en alkohol was buitensporig hoog – met ’n los sigaret wat duurder was as ’n liter petrol en die swartmark wat gefloreer het.
Die opheffing van die verbod op alkohol en sigarette is met gemengde gevoelens begroet en Weskus Nuus het inwoners se mening hieroor gevra. Die vrae op almal se lippe bly: Gaan die getalle weer skerp styg? Gaan misdaad, veral geweldsmisdaad en huishoudelike geweld weer hoogty vier?
Dronkbestuur is ook van die bekommernisse by inwoners en dit kan dalk weer mediese personeel, wat reeds onder druk is, verder onder druk plaas. Skole open ook hierdie week en baie mense wat maande lank sonder ’n inkomste was, kan ook nou weer begin werk.
Inwoners is dit eens dat almal versigtig moet wees en hoop en vertrou dat almal steeds by die reëls gaan hou – om jou hande gereeld te was, ’n veilige afstand te hou en ’n masker te dra.


