Ricardo Matthews, Alfonso Solomons en Christopher Solomons by die twee wendyhuise wat in Uitbreiding-13 afgebrand het. Foto: Murphy Roberts


Die ergste koue dae is nog op pad en so ook die moontlikheid van brande wanneer inwoners gaan probeer warm bly, maar ongelukkig het twee families onlangs reeds alles in twee afsonderlike brande verloor.

Een brand het Vrydag 25 Maart in Rotterdamstraat, Avondale, uitgebreek waar twee wendyhuise afgebrand het. Volgens Allister Lightburn, die wyksraadslid, is die brand vermoedelik deur ’n kortsluiting veroorsaak, maar ’n amptelike ondersoek word nog gedoen.

Nog twee gesinne van Saxon Sea is ook dakloos gelaat toe hul wendyhuise in puin gelaat is. Dié voorval het Woensdagaand 6 April in Uitbreiding-13 gebeur.

Volgens Cedwina Adams het sy en haar gesin reeds geslaap toe hulle hoor iemand skree daar is ’n brand.

“My man het gaan kyk en gesien die wendyhuis langs ons is reeds in ligte laaie en die brand het vinnig na ons woning versprei. Ons het nie tyd gehad om klere of ander besittings te gryp nie. Ons moes eers die vier kinders na veiligheid bring, en daarna was alles aan die brand,” het sy vertel.

Volgens Alfonso Solomons, wat in die wendyhuis woon waar die brand vermoedelik uitgebreek het, was hy nie tuis toe dit gebeur het nie.

“Ek vind dit baie vreemd dat die brand by my begin het aangesien ek geen elektrisiteit of toestelle het nie,” meen hy.

Christopher Solomons, die eienaar van die erf, sê hy het geslaap toe iemand aan sy venster kap oor die brand in sy agterplaas.

Die twee wendyhuise het tot op die grond afgebrand en die gesinne het alles verloor behalwe die klere wat hulle aangehad het.

Adams sê hul persoonlike dokumente het ook uitgebrand, maar die gesin is verlig en dankbaar hul een-, vier-, sewe- en 11-jariges is ongedeerd.

Volgens ’n buurvrou vermoed hulle ’n inbreker, wat aan hulle bekend is, is dalk verantwoordelik vir die brand.

Kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, sê geen inligting oor die brande is aan die polisie verskaf nie.

Lightburn maan inwoners – veral dié wat in mense se agterplaas woon – om veral nou in die koue seisoen uiters versigtig met toestelle en kerse te wees. Hy vra inwoners moenie verwarmers of ’n stoof vir hitte saans aan los nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article