Quinne Roland (17) is vroeg Saterdagoggend in Robinvale afgemaai. Foto: Murphy Roberts


Twee jong mans – onderskeidelik 18 en 17 jaar oud – het hul laaste Jeugdag Donderdag 16 Junie beleef toe hulle in afsonderlike voorvalle afgemaai is.

Volgens Kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is Ethan Petersen (18) Vrydagaand 17 Junie in Grosvernorlaan, Saxonsea, doodgeskiet.

Volgens Munro het die oorledene omstreeks 20:30 uit die huis gegaan om ’n sigaret te rook, toe drie mans op hom afpyl en begin losbrand het. Munro het bevestig sewe skote is op die oorledene afgevuur en die slagoffer het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die volgende oggend het die 17-jarige Quinne Roland ook in ’n koeëlreën gesterf. Volgens Munro is nie baie inligting oor dié voorval bekend nie.

Omstanders op die toneel het bespiegel Roland was op die hoek van Bosganger- en Buntingsingel in Robinvale toe die voorval plaasgevind het. Volgens die omstanders het die skieters eers die oorledene in die been getref en hom daarna verskeie kere in die kop en gesig geskiet.

Hy is op die toneel dood.

Volgens Munro is twee jeugdiges, onderskeidelik 19 en 20 jaar, weens die moord aangekeer. Hulle word steeds aangehou.

Die skietery het egter nie daar gestop nie en nog ’n bloedige week het verlede week gevolg.

Woensdagaand (22 Junie) is twee mans kort ná mekaar vermoor.

Hayden Johnson (35) is ongeveer 19:30 in Tsitsikamastraat, Kannonkop, in die gesig geskiet, het Munro bevestig. Die oorledene het op die toneel aan sy skietwond beswyk.

Oomblikke later is Ashwin Smith (37) in Delville Court, Sherwood Park, doodgeskiet.

Volgens Munro het dié oorledene ook op die toneel beswyk. “Niemand is nog in verband met die laaste moorde in hegtenis geneem nie,” het Munro gesê.

Die voorvalle is vermoedelik bendeverwant.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article