“Jy moet ons beskerm, nie bevoel” en “Hoekom laat jy moordenaars vry?” is van die boodskappe op plakkate waarmee gemeenskapslede Donderdag 25 November voor die Atlantis-hof betoog het.
Die vreedsame betoging is gehou om die veldtog vir 16 dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders te begin en is deur die Survivors Haven-stigting gereël. Die boodskap van inwoners aan die departement van justisie was duidelik: “Kom maak skoon of ons maak self skoon!”
Waarnemende landdros moet waai
’n Deel van inwoners se misnoeë was die aanstelling van ’n waarnemende landdros by die Atlantis-hof. Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven-stigting is die waarnemende hooflanddros hier geplaas nadat vier aanklagte oor seksuele teistering by die Malmesbury-hof teen hom aangemeld is.
Volgens bronne word hierdie klagte tans intern teen die regsgeleerde ondersoek en geen strafregtelike klagte is aanhangig gemaak nie.
Volgens ’n dokument in WeskusNuus se besit, waarin die landdros skriftelik op die bewerings aan die Wes-Kaapse hooflanddros reageer, sê hy die aantygings teen hom is ’n “sameswering”. Volgens die dokument waarin die landdros alles ontken, word beweer hy het geld aan ’n vroulike sekerheidswag gebied in ruil vir seksuele gunsies. Die vier klaers beweer ook dat die landdros gereeld onvanpaste uitlatings oor hul kleredrag gemaak het, wat hulle ongemaklik laat voel het.
“Atlantis het ’n lang geskiedenis van seksuele misdade, en dit is ’n duidelike teken dat justisie-amptenare niks van die gemeenskap dink nie,” sê Passenz oor die aanstelling van die landdros in die waarnemende pos.
Die gemeenskap eis dat die waarnemende hooflanddros en ’n kontrak-landdros summier uit Atlantis verwyder word. Volgens ’n memorandum wat aan ’n verteenwoordiger van die adjunkminister van justisie se kantoor oorhandig is, moet die twee binne sewe dae verwyder word “of die gemeenskap sal dit self doen”.
Landdros ‘nalatig’
In die memorandum word genoem dat die kontrak-landdros borgtog aan gereelde misdadigers toedien. “Een moordenaar, wat reeds borgtog by die landdros gekry het, het weer ’n moord gepleeg en is net weer borgtog toegestaan,” lui ’n klagte teen kontrak-landdros. Die memorandum lui ook dat die kontrak-landdros ’n verdagte onlangs in ’n moord- en poging-tot-moord-saak laat loop het omdat sy glo hy is nie binne 48 uur voor die hof gebring nie.
Die gemeenskap eis alle sake wat deur die landdros aangehoor is, moet na die landdroskommissie vir hersiening verwys word en sy moet van ernstige nalatigheid aangekla word.
Volgens Mfuzo Senzile van die adjunkminister van justisie se kantoor, sal hulle binne sewe dae terugvoer gee, aangesien dit ernstige aantygings teen die twee geregsdienaars is. Die gemeenskap het Senzile verseker hulle sal oor sewe dae terug wees “en dan gaan daar nie weer gepraat word nie”.





