Wilbur Engelbreght (Metallurg) en Thando Nokilana (verteenwoordiger van die werkers) by die R50 miljoen se staal wat nie uitgevoer kan word nie. Foto’s: Murphy Roberts


Werkers van Get Steel het Vrydag na Jan Taks se kantoor opgeruk weens ’n dispuut oor uitvoerregulasies.

Meer as 350 werkers van die fabriek is woedend omdat hulle nou reeds weke by die huis is sonder betaling omdat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) glo die maatskappy hou nie by die regulasies nie en skuld hulle miljoene.

Werkers vrees die ergste en soek ’n verduideliking van SAID, wat nou reeds maande nie kan bewys dat die maatskappy wel die regulasies oortree nie. Volgens Andrew Bishop, mede-eienaar van Get Steel sit met die hande in die hare en is moedeloos en weet nie meer wat om te doen nie.

“Ons doen sedert dag een alles volgens die boek,” verduidelik hy. “Met meer as R50 miljoen se staal-billets wat gereed staan om uitgevoer te word en ongeveer R20 miljoen se staal waarop die SAID reeds beslag gelê het, kan ons eenvoudig net nie meer voortgaan met vervaardiging nie,” verduidelik hy.

Tydens Weskus Nuus se besoek aan die staalaanleg was daar nie ’n werker in sig nie en slegs hier en daar mense begin met instandhoudingswerk.Foto: Murphy Roberts

Bishop sê ná byna vier jaar se bloedsweet om die aanleg vir vervaardiging gereed te kry, wankel die aanleg ná slegs ’n paar maande. “Ons nagmerrie het in April vanjaar begin – slegs ’n maand nadat ons in Maart amptelik begin het,” sê hy. “Die SAID het begin beslag lê op ons produkte in die Kaapse hawe en tot vandag kon ons nie antwoorde kry oor wat verkeerd is met ons produk nie,” verduidelik hy. Volgens Bishop word hul produk volgens uitvoerwetgewing wat geen uitvoerbelasting behels nie, vervaardig.

“Die inkomstediens het skielik gesê volgens hom word die produk vervaardig en 20% se uitvoerbelasting word vereis, en daarom die beslaglegging sonder om enige bewyse aan die maatskappy voor te lê.

“Ons het reeds verskeie onafhanklike toetse laat doen en die resultate aan die Inkomstediens verskaf, maar kry eenvoudig geen terugvoering nie,” kla hy.

‘Dooie duit’

Volgens Thando Nokilane, een van die werkerverteenwoordigers, gee die Inkomstediens nie ’n “dooie duit om vir wat met hulle gebeur nie, en daarom het ons besluit om tot daar te gaan en antwoorde te eis,” vertel hy. “Indien die Inkomstediens glo die base is verkeerd, kan hulle mos die bewyse aan ons gee,” het hy gal gebraak.

Die SAID se kommissaris, Edward Kieswetter, het tyd gemaak om die stakende werkers te woord te staan en beloof die probleem sal so gou as moontlik die hoof gebied word.

Kieswetter het kort daarna met die eienaars van die maatskappy vergader oor die erns van die probleem.

Hy het hom tot die spoedige afhandeling van uitstaande kwessies verbind en onderneem dat die SAID se ondersoek spoedig afgehandel sal word en beloof om hul eie toetse op die materiaal so gou as moontlik te doen.

Volgens Bishop is dit gewis ’n stap in die regte rigting om werkers weer produktief te kry en voort te gaan met produksie.

Bishop sê sy maatskappy is daartoe verbind om by die uitvoerregulasies te hou.

Nokilana het na aanleiding van die SAID se terugvoering gesê hy is bly die SAID het na hulle geluister en hoop werkers kan gou na hul werksplek terugkeer. Teen druktyd was die werkers steeds by die huis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article