Franklin Bok is dood aangetref in sy sel nadat hy pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.Foto:


’n Man wat tereggestaan het op twee klagtes van verkragting het verlede week selfdood gepleeg.

Franklin Bok (25), wat na bewering twee 12-jarige seuns in 2016, in afsonderlike voor­valle verkrag het, sou Donder­dag 2 November in die Atlantis-streekhof gevonnis word nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Volgens ’n bron na aan die ondersoek het Bok in altwee gevalle die seuns gevra om hom te help met iets in ruil vir betaling. Hy het egter die seuns na die bosse gedwing, waar hy hulle verkrag het.

Die ooreenkoms tussen die staat en Bok sou 50 jaar tronkstraf insluit, waarvan 10 jaar opgeskort is.

Families van die twee slagof­fers was wreed ontnugter toe hulle meegedeel is dat die verdagte selfdood gepleeg het.

Een van die slagoffers se ouma het aan Weskus Nuus gesê: “Ons sou beter gevoel het as hy in die tronk was en geboet het vir sy dade, dan het geregtigheid geskied. Maar hy het seker nie vir die tronk kans gesien nie.”

Volgens konst. Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder, het bewaarders die ontdekking gemaak toe hulle Bok na die hof moes vergesel. “Dit is in die stadium onduidelik hoe die oorledene dood is, maar ons vermoed geen vuilspel nie. ’n Geregtelike doodsondersoek is ingestel.”

Barbara Rass, aktivis en kampvegter vir vroue en kinderregte, het sterk uitgevaar teen mense wat hul skuldig maak aan sulke oortredings en sê Atlantis gaan dit nie langer duld nie. Ras sê wette soortgelyk aan die Wet op die Voorkoming van Georgani­seer­de Misdaad (Poca-wetgewing) moet ook teen verkragters gebruik word, “aangesien verkragters net weer op parool vrygelaat word”.

. Identiteite van familielede word weerhou om slagoffers te beskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article