Die 46-jarige voormalige rugbyafrigter van Mamre, wat hom as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen en sodoende slagoffers geteiken het, se saak moet nou momentum kry, het die landdros gelas.
Die saak, wat nou reeds langer as twee jaar op die hofrol is, het weer ’n terugslag gehad toe die verdagte van regsverteenwoordiger verander het. Dit is onduidelik of die vorige een onttrek het en of hy die trekpas gekry het. Die verdagte het met sy verskyning Woensdag 9 Maart aangedui hy het ’n nuwe regsverteenwoordiger, maar die landdros het dit duidelik gemaak verrigtinge sal met of sonder ’n regsverteenwoordiger begin.
Die saak is toe tot 22 Maart uitgestel vir die nuwe regsverteenwoordiger om op rekord te kom, waarna dit tot 16 Mei uitgestel is sodat die verdediging sy saak kan voorberei. Die verdagte het vroeër aangevoer die staat het geen bewyse nie en alles is slegs hoorsêgetuienis. Die staat het egter die teendeel bewys toe die verdagte en sy vorige regsverteenwoordiger tydens sy verskyning Donderdag 2 Desember die bewyse teen hom gesien het. Die verdagte is op 29 Julie verlede jaar weer aangekeer nadat nog ’n klaer ’n klagte van verkragting teen hom aangemeld het. Hy verskyn nou op vyf aanklagte van verkragting en verskeie van die besit van en vervaardiging van kinderpornografie.
Die verdagte, wat reeds op R10 000-borgtog vrygelaat is, het glo sy personae gebruik om slagoffers te kry om onder meer eksplisiete foto’s van hulself aan hom te stuur. Die jongste slagoffer het ná byna vier jaar die ys gebreek en haar ouers op Vadersdag vertel wat gebeur het.
Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven-organisasie, wat die families en slagoffers ondersteun, is hulle bewus van nog slagoffers, maar hulle wil nie na vore kom nie. “Ek wens die jonger meisies wil oopmaak, want dit kan net voordelig wees aangesien professionele berading beskikbaar is,” vertel Passenz.
Passenz sê die saak kry nou momentum en hy hoop die verhoor begin gou.
Die verdagte is steeds onder huisarres totdat die saak afgehandel is.


