Kabeldiestal ontwrig nie net inwoners en ondernemings nie, maar kos die Stad Kaapstad miljoene rande.
Die probleem is reeds in verskeie subraad-vergaderings bespreek. Die subraad-voorsitter Nicky Rheeder het op die laaste vergadering gesê nog ’n kopsorg is die diefstal van watermeters.
Volgens Kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is ’n verdagte (36) onlangs weens kabeldiefstal aangekeer.
Munro sê inligting uit die gemeenskap het tot die inhegtenisneming van die verdagte gelei, en bygevoeg inwoners moet “meer verantwoordelikheid aanvaar” en inligting met die polisie deel.
“Die verdagte, wat glo ’n 120 m lange kabel naby Proteus Skool uitgehaal het, het laat spat toe hy die polisie gewaar,” het Munro bevestig.
Lede van die Atlantis-misdaadvoorkomingseenheid het die vermeende koperdief egter agternagesit en hy is aangekeer, het Munro gesê.
Kabels ter waarde van R50 000 is gevind en die verdagte is weens die besit van gesteelde eiendom aangekla.
Die Atlantis-polisie het die gemeenskap bedank vir hul bydrae tot die bekamping van misdaad. Munro het gesê kabeldiefstal is ’n ernstige misdaad wat ’n groot uitwerking op die infrastruktuur van die dorp het.
“Atlantis gaan reeds gebuk onder finansiële druk, en die werkloosheidsyfer is hoog. Met die misdaad wat kan bydra tot nog werksverliese, kan die gemeenskap dit nie bekostig nie,” het Allister Lightburn, ’n raadslid, gesê.
Munro het inwoners met inligting oor kabeldiefstal gevra om die polisie by 021 571 8500 of 08600 10111 te kontak.
“Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word,” het sy verseker.





