Dis skandelik en morsig!
Inwoners en sakelui sê dit is onaanvaarbaar dat die ou-Atlantis-inkopiesentrum in so toestand is nadat dié gebied glo vir langer as ’n week nog nie skoongemaak is nie.
Volgens Shireen May, ’n karwag in die parkeerplek buite die sentrum, begroet die hope vullis hulle elke oggend.
May vertel daar was in die verlede elke oggend skoongemaak, maar die afgelope paar weke word daar net dan en wan opgeruim.
“Dis glad nie ’n plesier om jou werksdag so te begin nie,” vertel sy.
Met Weskus Nuus se besoek, lê vullis die hele wêreld vol versprei en verbruikers van die sentrum is glad nie beïndruk met die gemors nie. Maandae is glo die ergste.
Informele handelaars wat by dié sentrum smous, het aan Weskus Nuus gesê hulle rapporteer dit daagliks, maar kry geen terugvoering van die Stad Kaapstad se amptenare nie.
Hulle meen ook die gemors beïnvloed hul ondernemings wat alreeds swaar deur die Covid-19-pandemie geraak is omdat mense nie gou genoeg kan wegkom van die morsige toestande waarin hulle vars produkte moet verkoop nie. Volgens Nora Grose, voorsitter van subraad, het sy die klagte na die nodige departement gestuur en wag op terugvoering. Die Stad Kaapstad het teen druktyd nog nie reageer nie.


