Vasberade en hardkoppig, maar tog ’n man met ’n sagte hart.
Só word Umer Dollie (69), ’n bekende plaaslike sakeman en gemeenskapsleier, wat Maandag 22 Maart dood is, beskryf.
Dollie was in die West Beach-rehabilitasiesentrum nadat komplikasies ná ’n beroerte ingetree het. Dollie, wat in 1976 na Atlantis gekom het, het ’n vervoer- en hardeware-onderneming bedryf en reeds aan sy visie van ’n geboukompleks begin werk.
Dollie het die dorp se eerste begrafnisonderneming begin toe hy Atlantis Funeral Undertakers gestig het.
Die visie van ’n sentrum het in 1988 momentum gekry toe Dollie sy eerste gebou in Markstraat gebou het, en daarna kon niks dié passievolle man met ’n visie keer nie. Dollie, wat by verskeie gemeenskapsorganisasies betrokke was, het ’n groot bydrae tot die sukses van die Orion-diens-sentrum gelewer en lank op die bestuur van die organisasie gedien. Hy het aan ’n oopdeurbeleid geglo.
Dollie sal deur die gemeenskap onthou word as die hardekwas-man met die sagte hart, en word as een van die vaders van die dorp beskou.
Hy laat vyf seuns, sewe kleinkinders en ’n agterkleinkind agter.


