Die studente van die UWK-rugbyklub was Saterdag op die Mamre-sportterrein te slim vir Hamlets. Die besoekers, wat rustyd reeds 32-12 voor was, het die stryd 45-31 gewen.
Hamlets, wat die wedstryd teen ’n vinnige tempo begin het, se dissipline het baie gelol en die span het reeds in die eerste 10 minute vyf strafskoppe afgestaan, wat die UWK in punte omgeskep het, en het ook die tuisspan ’n strafdrie gekos, wat sake vir hom al moeiliker gemaak het.
Die besoekers, wat die eerste helfte oorheers het, moes egter by tye ook verdedig vir al wat hy werd was. Die tuisspan, wat in die eerste helfte geen tekort aan balbesit en gebiedsvoordeel gehad het nie, kon egter nie die besoekers se damwal laat breek nie.
Die tuisspan het in die eerste helfte wel baie vrae aan die studente gevra, maar die slimmes het altyd ’n antwoord gereed gehad terwyl die tuisspan nie dieselfde kon doen.
Terwyl die UWK hom in die tweede helfte gereed gemaak het om nog sout in die gekweste tuisspan se wonde te vryf, het daar dadels van gekom.
Hamlets, wat reeds dié seisoen bewys het dat hy in die tweede helfte op sy gevaarlikste is, het egter van wedstrydplan verander en die besoekers moes die meeste van die verdedigingswerk doen, terwyl die tuisspan die meeste vrae gevra het.
Hamlets het die bal met elke kans wat hy gekry het, lug gegee en sy ondersteuners vir 40 minute op hul voete gehad. Die tuisspan, wat hierdie seisoen nog nie die soet van ’n oorwinning geproe het nie, sal egter sy sokkies moet optrek as hy volgende seisoen in WP se top-liga wil bly. . Atlantis het op sy beurt sy onoorwonne status in die WP Suidelike liga behou toe die span Young Stars 39-14 op die Proteapark-sportterrein geklop het. Atlantis is sterk op pad na die topnege-uitspele vir promosie na die Superliga C en is die enigste onoorwonne span in sy streek.
Die tweede ronde van die Boland-grootuitdaagbeker skop eerskomende naweek af met Mamre wat die verdedigende kampioen, Saldanha, sal onthaal. Young Hearts reis na Velddrif om wraak te probeer neem vir die nederlaag vroeër op die Grafkelder.
Mamre, wat tans derde op die punteleer is, sal met ’n oorwinning ook sy hand vir die uitspele opsteek. Young Hearts sal met ’n oorwinning binne trefafstand van die voorlopers bly.


