Plaaslike kontrakteurs wat tans by Fase 1 van die Asez betrokke is, het uitdagings, maar dit word oorkom, vertel hulle.Foto: Murphy Roberts


Met 30% van die kontrakwaarde wat aan plaaslike kleinsakeondernemings toegeken is, is Sone 1 van die Atlantis- Spesiale Ekonomiese Sone (Asez) op dreef om die teiken vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling te bereik.

Só verduidelik Michael Pienaar van die Asez.

Volgens Pienaar is agt plaaslike kontrakteurs reeds aangestel vir verskeie projekte ter waarde van meer as R10 miljoen. “Dit bly die Asez se doelwit om sy teiken van 30% plaaslike besteding te bereik,” verduidelik hy.

“Die algehele belegging in plaaslike kontrakteurs beloop byna R20 miljoen,” het hy Vrydag trots aan Weskus Nuus vertel.

Met die eerste pakkette wat reeds toegeken is, is 108 werksgeleenthede deur plaaslike kontrakteurs geskep met die hoofkontrakteur wat op sy eie 42 werksgeleenthede geskep het.

“Fase een van die Asez-ontwikkeling, wat die siviele werke behels en ongeveer 12 erwe insluit, se eerste kliënt is reeds gereed om sy fabriek te bou en hopelik sal die tender binnekort adverteer word,” sê Pienaar.

Hy voeg by die projek word goed deur plaaslike kontrakteurs ondersteun, wat net positief vir die toekoms kan wees.

Weskus Nuus het met van die plaaslike kontrakteurs gepraat, maar hulle het gevra dat hul name nie genoem word.

Van die kleiner kontrakteurs sê hulle het baie uitdagings, maar hulle probeer alles in hul vermoë om die uitdagings te oorkom.

Volgens Pienaar is hy bewus dat baie kleiner kontrakteurs sukkel om materiaal te koop, en daarom het Absa ingespring om die kontrakteurs te help met lenings teen bekostigbare rente.

’n Proses om sakelui met kleiner ondernemings te help om hul ondernemings vir tenders gereed te kry, bestaan ook.

Geld vir materiaal en ander uitgawes is en bly egter ’n probleem, het een kontrakteur gesê, maar bygevoeg met Absa wat na die tafel kom, “kan dit net beter gaan”.

Volgens Pienaar sou die projek nie ’n sukses kon wees sonder die plaaslike kleinsakeondernemings nie en is hulle dankbaar dat plaaslike sakelui goeie geduld met die projek het, omdat die projek steeds baie groeipyne het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article