Met drie plaaslike spanne in die laaste vier het die derde Mamre OK-gemeenskaps-7’s-toernooi ’n plaaslike eindronde opgelewer.
Mamre-rugbyklub het verlede Saterdag (30 November) hul tweede titel gewen toe die groen truie van Kenny Stadller Hamlets ná ekstra tyd 10-7 geklop het.
Die twee spanne van Mamre het hul stempel reeds vroeg afgedruk terwyl die span van die grafkelder Young Hearts en Atlantis ook gewys het hulle is vroeë gunstelinge. Atlantis, wat wel sy groepwedstryd teen Mamre verloor het, het egter genoeg gedoen om die laaste 16 te haal, waar hy Young Hearts moes trotseer wat die einde van een van die twee spanne se titel drome sou wees.
Young Hearts het egter gewys hoekom hulle een van die gunstelingspanne is en het die wedstryd 19-14 gewen. Die drie plaaslike spanne het daarna hul kwarteindwedstryde gewen met Hamlets wat die verdedigende kampioen, St. Georges, uitgeskakel het.
Mamre het Kuilsrivier huis toe gestuur terwyl Young Hearts ook maklik met Hillcrest afgereken het. Met drie spanne in die halfeind moes een span die prys betaal en Hamlets het Young Hearts gekry terwyl Mamre en Roses sake moes uitspook.
Hamlets het egter genoeg gedoen om die grafkelder se harte te breek terwyl Mamre die dorings van die Rose geknip het om die eerste plaaslike eindronde te verseker.
Die twee spanne wat ook geskiedenis gemaak het om vir die eerste keer nog teen mekaar te speel, het egter nie teleurgestel nie. Met die telling sewe elk ná speeltyd was die tafel gedek vir ekstra tyd met die span wat eerste punte aanteken, wat die wedstryd sou wen.
Mamre se ondervinding was egter die sleutel tot die span se oorwinning en die Speler van die Toernooi, Edwill Okkers, het die groen truie se tweede titel in die eerste minuut verseker. Hy het met die afskop ’n kort skoppie gewaag. Die oudkampioen het besit verseker en sy span se oorwinning met ’n vinnige skepskop beklink.




