Denise Stols in die rolstoel by haar vriendin Wilna Arendse. Hulle beplan ’n geldinsameling om ’n elektriese rolstoel aan te skaf.Foto: Murphy Roberts


Sy verdien nuwe wiele “en ek gaan haar help”, sê Wilna Arendse oor Denise Stols (60) van Kanonkop se dilemma.

Stols is al langer as 30 jaar aan ’n rolstoel gekluister weens beserings wat sy in ’n motorongeluk opgedoen het. Sy is van haar middellyf af verlam. Sy sê sy het in die verlede alles vir haarself gedoen, al was sy in ’n rolstoel. “Vandag moet ek mense betaal om my te help.”

Sy sê haar lewe is twee jaar gelede nog erger ontwrig toe die bestuurder van ’n bakkie haar en haar helper getref het. Die helper het ligte beserings opgedoen, maar Stols se been moes onder die knie afgesit word, wat haar lewe verder bemoeilik het, vertel sy emosioneel.

Volgens Arendse, haar vriendin, is dit hoekom sy Stols wil help.

Die twee, wat langer as twee dekades vriende is, werk die afgelope tyd aan ’n plan om ’n elektriese rolstoel aan te skaf.

Volgens Arendse is die plan om ’n digitale geldinsameling te reël aangesien die stoel meer as R30 000 kos. Sy sê hulle was reeds met Go Fund Me in verbinding. Kortvideos van die begunstigde sal gespeel word. Volgens Arendse, wat desperaat is om haar vriendin se droom te help bewaarheid, het sy nie juis die vaardigheid om die videos te produseer nie en wil graag hê iemand uit die gemeenskap wat kan help, moet haar kontak. Sy wil die videos op ander sosiale platforms ook versprei.

Die twee vriendinne is opgewonde oor die projek en vra enigiemand wat graag wil help, om enige van hulle te kontak by 084 212 7796.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article