Twee mans is Donderdag 4 Augustus deur die Valke weens vermeende bedrog aangekeer nadat hulle vermoedelik vals eise van R670 000 vir die Covid-19-Tersfonds ingedien het.
Die boekhouer Robert Baadjies (62) en Christiaans Matthews (70), ’n direkteur van NC Enterprise, het later dieselfde dag in die plaaslike hof op vyf aanklagte van bedrog verskyn. Hulle is op borgtog van R1 000 per aanklag vrygelaat.
Volgens Weskus Nuus se bron het dié twee glo spookwerkers geregistreer en eise ingedien vir die fonds wat geskep is om werkers tydens die Covid-inperking met ’n inkomste te help.
Die bron sê Baadjies en Matthews het aan 79 mense gesê hulle sal hulle help om aansoek te doen vir die R350-toelaag, maar in werklikheid is die groep as werkers van NC Enterprise en vier ander maatskappye geregistreer. Hierna het hulle glo aansoek gedoen vir die Ters-geld. Die bron sê die “werkers” het wel R350 ontvang, maar die ander geld is vermoedelik tussen die twee verdeel.
Net soos die plaaslike organisasie Sarco, wat na bewering vals werkers gebruik het om Ters-geld te bekom, het een van dié “werkers” alarm gemaak.
’n Man het aansoek gedoen vir ’n werkloosheidstoelaag toe hy meegedeel is hy werk dan by NC Enterprise. Dié man het alarm gemaak en die departement van arbeid het die voorval by die Valke aangemeld.
Baadjies word ook daarvan verdink dat hy Ters-aansoeke vir Ruben Swarts se organisasie (Sarco) ingedien het. Swarts verskyn tans in die hof op aanklagte van bedrog wat die registrasie van 32 spookwerkers behels. Baadjies sal ook vir dié saak op ’n aanklag van bedrog verskyn.
Volgens Weskus Nuus se bron wou Swarts ’n pleitooreenkoms met die staat vir ’n opgeskorte vonnis aangaan en teen Baadjies getuig. Die staat het dit egter van die hand gewys “omdat oorweldigende bewyse teen die boekhouer bestaan”. Hulle sal weer op 9 September in die hof verskyn. Volgens die bron word nog inhegtenisnemings vir Ters-bedrog verwag.. Nora Grose, voormalige subraad 1-voorsitter en tans proporsionele raadslid vir die DA, word van geldwassery aangekla en het vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag gerig om die klagtes teen haar te laat vaar. Grose en Swarts sal op 24 Augustus in die Bellville-handelshof op aanklagte van onder meer geldwassery verskyn.

