Twee polisielede wat op 14 Februarie in die hof op aanklagte van ontvoering en poging tot moord verskyn het, moet op 9 April weer in die beskuldigdebank inskuif. Dié twee het net vlugtig in die hof verskyn voordat die saak vir verdere ondersoek uitgestel is.
Hulle is verlede jaar deur die Onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) by die polisiekantoor in hegtenis geneem.
Die lede het vermoedelik – nadat verskeie kere by lede se motors op die polisieperseel ingebreek is – besluit om die reg in eie hande te neem.
Drie polisielede het, nadat een se motorbattery gesteel is, vermoedelik drie verdagtes in Neptune Castle gaan haal en na die nywerheidsgebied gery.
Een van die verdagtes is glo uit die vangwa gehaal en erg aangerand.
Die polisielede, van wie een net gestaan en kyk het sonder om haar kollegas te keer, het na bewering op die man geskiet om hom af te skrik in die hoop dat hy sal sê waar die battery is.
Die man is egter glo in die been getref, verder aangerand en vir dood in die bosse gelos. Die voorval, op 14 November verlede jaar, het die dorp omtrent in rep en roer gehad en baie inwoners voel geregtigheid moet geskied.
Die twee staar aanklagte van ontvoering en poging tot moord in die gesig en is elk op borgtog van R15 000 vrygelaat.
Volgens die pa van die jongman, wat weens vrees vir intimidasie nie sy naam genoem wil hê nie, is hy baie ongelukkig dat die polisie, wat veronderstel is om mense te beskerm, die reg so in eie hande geneem het. Die lede, wat steeds werk, is volgens ’n betroubare bron intern met twee maande se salaris beboet.




