Buurtwaglede van verskillende gebiede het die oorhandiging van noodsaaklike toerusting bygewoon. Foto’s: Murphy Roberts


Twee plaaslike wyksraadslede sê die veiligheid van inwoners kom eerste en daarom het hulle besluit om hul geld te sit waar hul mond is.

Dié raadslede, Allister Lightburn en Moosa Raise, het Saterdag 18 Junie toerusting aan die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum oorhandig.

Die toerusting, wat fietse, ligte en ander noodsaaklike hulpmiddels insluit, is in die teenwoordigheid van die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid en polisie oorsig, Allen Reagon, asook JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, en ander hooggeplaastes oorhandig. Volgens Smith, wat reeds meer as twee dekades op die Kaapse stadsraad dien, het hy al verskeie raadslede “sien kom en gaan”, maar sê dié twee “is gewis hands on”.

“Ek het lanklaas met sulke ‘lastige’ raadslede gewerk wat my gereeld oor hulp vir Atlantis bel,” het hy tong in die kies gesê. Hy meen dit is ’n riem onder die hart om sulke aktiewe raadslede te sien.

Volgens Smith moet nog baie gedoen word, en wonderwerke gaan nie oornag gebeur nie, aangesien inwoners ook ’n rol het om te vervul om plaaslike misdaad te bekamp.

Smith meen raadslede voeg die daad by die woord en verwys na ’n keer toe hy ’n misdaadvoorkomingsoptrede in Atlantis bygewoon het, waar Lightburn self ’n misdadiger agterna gesit het. Die man het glo gevlug en agter ’n vrou weggekruip. Die vrou het glo het gesê die skurk het om die draai gehardloop, maar ’n kind verklap toe die vrou versteek die skuldige.

“Buurtwaglede offer hul tyd op en word nie betaal nie,” het Smith gesê, “en daarom koester en waardeer ons hulle. Die Stad het ook ’n selfoon-App wat jou direk met die Stad se beheerkamer verbind.

“Die Stad het ongeveer 25 000 selfone waarop beslag gelê is, maar wetgewing verhinder ons egter om die selfone aan buurtwagte te gee – selfs al maak dit hul werk makliker,” sê Smith.

Volgens Reagon, wat self op die Kaapse Vlaktes grootgeword het, het hy ook familielede in bendegeweld verloor. “Dit is ’n stryd wat nie deur een departement gewen kan word nie – maar ons almal saam het,” hy gesê.

Die raadslede sê leiers in die onderwêreld infiltreer ook die verskillende departemente. “Ons kan dus nie net veiligheidskameras oprig sonder ’n veiligheidsplan nie.”

Volgens Lightburn het hy geld in sy nuwe begroting vir kameras bewillig, maar moet eers seker maak dit word nie deur lede in die onderwêreld beheer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article