’n Jong man wat by ’n padblokkade deur wetstoepassers van die Stad Kaapstad en die polisie Donderdag 15 April afgetrek is, het hom waarskynlik doodgeskrik.
Kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, sê die 24-jarige man van Witsand is die oggend in die nywerheidsgebied tydens die gesamentlike operasie afgetrek en beamptes het gevra om sy rybewys te sien. Volgens Munro het die bestuurder tot die skok en verbasing van beamptes net inmekaargesak. Hy is op die toneel dood.
Volgens Munro wag die polisie vir die lykskouingsverslag om vas te stel waaraan die oorledene dood is.
Nog ’n motorbestuurder is twee uur later in Neil Hare-weg dood nadat hy vermoedelik ’n hartaanval gehad het terwyl hy bestuur het.
Die oorledene, van Tableview, se voertuig het van die pad af gery en teen ’n lamppaal tot stilstand gekom.
Volgens Munro is ’n ondersoek vir strafbare manslag geopen totdat die lykskouing afgehandel is.
Pendelaars van Atlantis is die oggend weer erg ontwrig toe onwettige taxi-operateurs moes rondval om hul voertuie tydens die optrede te beskerm.
Operateurs voel die Stad het teruggeslaan nadat hulle verlede week ’n punt bewys het deur te staak.
Richard Coleman, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se verkeersdiens, sê egter die optrede was nie teen taxi-operateurs gemik nie, maar teen alle motorbestuurders.
Hy het bevestig dat die polisie op 19 onwettige taxi-operateurs se voertuie beslag gelê het.
Coleman sê 93 boetes is uitgereik, maar niemand is aangehou nie.




