Die polisie in Atlantis moes die afgelope twee weke bontstaan ná verskeie skietvoorvalle in die gebied.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is ’n man om 08:00 op verkiesingsdag (29 Mei) in die maag en arm in Tsitsikamastraat, Kanonkop, gewond. Volgens omstanders op die toneel het die verdagte, wat bekend is, sy slagoffer geroep en begin losbrand. Die slagoffer het die aanval oorleef en is na die hospitaal geneem. Volgens Munro word ’n klagte van poging tot moord ondersoek.
Sondag 2 Junie is drie mense in twee afsonderlike voorvalle geskiet waarvan een op die toneel oorlede is, het Munro bevestig. Tydens die eerste voorval die middag net ná 14:00 is twee mans in Platbosstraat in Uitbreiding 12 gewond. Volgens Munro is twee in die arm en heup getref en na die hospitaal geneem.
Skieters het later die aand op die hoek van Sterrenchange en Sacrementostraat in Saxon Sea ’n man met een enkele kopskoot doodgeskiet. Volgens Munro het die slagoffer in die hospitaal aan sy wond beswyk.




