Die polisie het bevestig dat die twee verdagtes wat vir die dood van Ashley “Jakkals” Jansen aangekeer is, skuld beken het.
Volgens Kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het Wilfred Manuel (40) en Randal Goliath (27) reeds skulderkennings en sekere uitwysings aan die polisie gedoen.
Dit volg nadat Jansen en nog ’n vrou, wat aan Weskus Nuus bekend is, glo Dinsdag 15 Maart besluit het om by ’n plaas in te breek toe hulle betrap is. Volgens die vrou, wat anoniem wil bly, het sy die hasepad gekies toe Jansen gevang is.
Die vrou het verduidelik sy is op pad terug na Atlantis deur polisiebeamptes voorgekeer en deursoek en met dwelms betrap.
Intussen is dieselfde polisie na die plaas ontbied en dié vrou is saam met die beamptes terug na die toneel waar hulle wou inbreek. “Ons is na die plaas nadat die eienaar of iemand alarm gemaak het oor ’n inbreker. Ek kon sien Jakkals was reeds dik geslaan, want die polisie het hom na een van die waens gesleep en die houe het omtrent geval,” het die vrou vertel.
Inwoners van Neptune Castle was moerig nadat bewerings van polisiewreedheid versprei is.
Munro sê geen polisiebeamptes was betrokke met die aanranding van die oorledene nie, maar het bevestig die polisie het Jansen na die Wesfleur-hospitaal geneem.
Verskeie pasiënte by Wesfleur-hospitaal, wat die betrokke aand by die hospitaal was, het aan Weskus Nuus bevestig Jansen was met sy aankoms naak. Volgens die pasiënte het die oorledene vir ure gelê sonder dat enige mediese personeel aandag aan hom gegee het. ’n Verpleegster het Jansen glo net met ’n kombers toegegooi.
Natalie Watlington, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid, het by navraag bevestig die oorledene is deur polisie na die hospitaal gebring.
“Die pasiënt is met sy aankoms deur die verpleegpersoneel getoets en deur die mediese beampte aan diens ondersoek. Die pasiënt is as geel gemerk en is na die wagkamer.”
Jansen het glo in die vroeë oggendure in die wagkamer ineengestort en is dood verklaar, sê Watlington.
Volgens Munro sal ’n lykskouing die oorsaak van Jansen se dood bepaal.




