Dr. Veneshley Samuels wys met trots waar sy vandaan kom.Foto: Clement Trussell


“Dura is waar ek my eerste tree gegee het. Dis waar ek my eerste woorde geuiter het. Dis waar my ouers en familie woon.”

Só sê nuut gegradueerde dr. Veneshley Samuels met trots.

Die mediese dokter, wat in die hart van die gerugte Dura-woonstelle in Atlantis opgegroei het, vertel aan Weskus Nuus sy het juis dié beroep gekies om haar gemeenskap te help.

“Ek het reeds in my laerskooldae besluit dat ek wil iets van my lewe maak en het gereeld by my ouers gesmeek om my uit die woonstelle te neem om my droom te bewaarheid.”

Samuels vertel sy was moeg daarvan om koes-koes te loop of te hardloop van die skool af.

Bendegeweld vier steeds hoogty in dié gebied.

“My ma moes toe ingee toe sy die angs en vrees in my oë sien nadat bendes eendag weer wild opmekaar geskiet het.”

Samuels het toe na haar tante in Paarl verhuis, waar sy haar skoolloopbaan voortgesit het.

Híér het sy nie meer nodig gehad om vir bendes se koeëls te koes nie, maar vir die reën.

Samuels het in Paarl haar tannie se hokkie met haar gedeel.

“Die hokkie waarin my tante gebly het, het baie ingelek, maar ek was veilig en kon op my studies konsentreer en my droom bewaarheid.”

Die beskeie meisie van die Dura sê die plek sal altyd deel van haar wees, maar sy moes iets doen om haar familie se omstandighede te verander.

“My familie woon reeds 40 jaar daar en ek dink dis net reg dat my ouers ’n rustige oudag kan geniet.”

Oor haar loopbaan sê Samuels, “ek wil meer as net ’n dokter wees, daarom het ek besluit om my studies verder te vat, sodat ek ’n groter impak inn my gemeenskap kan maak.”

Samuels studeer verder en wil spesialiseer in oordraagbare siekte soos tuberkulose en ander. “So kan ek my kennis neem en terugploeg in die gemeenskap.”

Die 24-jarige vertel om haar gemeenskap te kan help gaan sy nie privaat werk nie, maar by ’n staatshospitaal waar almal toegang tot haar dienste kan hê.

“Daar is baie goeie mense in Dura. Nie almal is bendes nie, daarom het ek besluit om met programme in die gemeenskap te begin om mense se siening oor die woonstelle te verander.”

Ongelukkig het die nasionale staat van inperking haar planne heeltemal omver gegooi, aangesien sy reeds vandeesmaand die eerste projek wou uitrol.

Sy eindig af deur te sê sy gaan beslis Atlantis haar tuiste maak.

“Dit is my geboorte dorp en is trots om vir mense te sê ek is van Dura en kan baie doen vir my gemeenskap.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article