“Onderwys is die paspoort na die toekoms, want môre behoort aan diegene wat vandag daarvoor voorberei.”
Dit was die woorde van wyle Malcolm X, burgerregte-aktivis en voorstander van swart bemagtiging in die 1950’s en 1960’s.
Denver Mentoor, uitvoerende bestuurder van Quantec Safety Consultancy CC, het Woensdag 13 Desember 2023 by die Saxonsea Sekondêr skoolsaal toebehore aan Grosvenor Primêr se drie beste graad 7-presteerders oorhandig.
Lee-Anne Joubert (89,4%), Luke Adams 78,8%) en Rejane Adams (77,8%) het skooltoerusting vir hul uitmuntende prestasies ontvang.
Quantec Safety Consultancy CC het besluit om vir die volgende vyf jaar ’n pad te stap met Grosvenor Primêr se drie beste graad 7-presteerders weens hul uitmuntende akademiese prestasies die afgelope jaar.
Die maatskappy sal die topdrie-leerders met skooltoerusting borg.
Terence Adams, die skoolhoof, het Quantec Safety Consultancy CC by die diplomaplegtigheid geloof vir sy inisiatief en ondersteuning aan die skool.
’n Trotse Adams het al die presteerders en hul onderwysers vir uitmuntende dienslewering bedank.
Hy het ook al die leerders alle sukses met hul hoërskoolloopbaan toegewens.


