Die derde OK Mamre-gemeenskaps-7’s-toernooi vind op 30 November plaas en van die beste spanne sal vanjaar hul hande op die gesogte prygeld wil sit.

Volgens die organiseerders het die eerste wenner, Mamre, asook die verdedigende kampioen, St. Georges, reeds hul deelname bevestig.

Volgens Usen Jacobs, die hoofborg van die 2024-toernooi, gaan 24 spanne sake vir die gesogte prysgeld uitspook. Jacobs sê die spanne word op Silverstroom-strand gehuisves en mense kan ook hul verblyf hier bespreek, wat ses toegangskaartjies na die toernooi insluit mits hulle dit deur die toernooi-organiseerders bespreek.

Die toernooi is besig om na een van die grootstes in sy soort te groei en sluit al drie unies in die Wes-Kaap in, wat dit amptelik ’n provinsiale toernooi maak. Volgens Jacobs maak Ladysmith van SWD vanjaar sy buiging en die toernooi word amptelik volgende week bekendgestel. Die plaaslike spanne Atlantis, Mamre, Young Hearts en Hamlets het reeds hul deelname bevestig en word onder hul onder­steuners as van die gunstelinge beskou.

Die organiseerders is opgewonde oor nog vier nuwelinge – Caledon, Ladysmith (SWD), Wesbank en Kuilsrivier – wat hul buiging in die toernooi maak, terwyl St. Georges (die Lulu Boys) sy titel sal verdedig.

Behalwe die prysgeld van R60 000, gaan spanne en ondersteuners, oud en jonk, vermaak word deur plaaslike kunstenaars soos Talieta Ruiters, Ingrid Beets, School of Dance en nog ander.

Plaaslike ondernemings sal weer toernooigangers en spelers met uitstekende tuisgemaakte etes bedien.

Die spanne ontvang vanjaar die eerste keer koskoepons om hul voorkeurdisse by kosstalletjies te koop wat nie net die eienaars finansieel sal versterk nie, maar ook help om suksesvolle besigheid op die dag te bestuur.

Die OK Mamre-gemeenskaps-7’s-organiseerders verskaf weer veilige parkering by Mamre Primêre skool, teen net R10. Toegangskaartjies is by OK Mamre Minimark beskikbaar teen R40 vir volwassenes en R25 vir kinders en pensioentrekkers. Elke kaartjiehouer sal op die dag van die toernooi ’n Coca-Cola-produk van 330 ml gratis ontvang wanneer hulle die sportterrein betree.

Sterk sekuriteit beheerde toegang sal gehandhaaf word in samewerking met plaaslike veiligheidsmaatskappye, die Stad Kaapstad se wetstoepassings­afdeling en die SA Polisiediens.

Oppi Kantlyn, die media-arm van die die OK Mamre- gemeenskaps-7’s-toernooi, wat die afgelope maande met verskeie rugbyspelers en rugbyadministrateurs onderhoude en mediadekking op hul Facebook-sosialemediaplatform verskaf het, sal weer opnames van die toernooi deur hul YouTube-kanaal beskikbaar stel vir diegene bied wat nie die toernooi kan bywoon nie.

Die OK Mamre-gemeenskap-7’s-toernooi se organiseerders werk kliphard agter die skerms om vir ondersteuners een van die beste toernooie aan te bied, wat ook ’n feesmaal soos min vir oud en jonk sal wees. Die gemeenskap word uitgenooi om die toernooi te kom ondersteun.

Vir meer inligting oor die toernooi kan Oppi Kantlyn weekliks op FacebookLive gevolg word, of kontak die mediaspan per e-pos by okmamresevens.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article