Die Kanonkop- siviele projek loop onder vandale deur en kan inwoners nog langer vir huise laat wag.
Volgens Regan Carlse, die gemeenskap-skakelbeampte vir die projek, word pas geboude mangate snags steen vir steen afgebreek om verkoop te word.
Volgens Carlse is skade van byna R100 000 aangerig toe kwaaddoeners onlangs verskeie mangate en ander pas geboude strukture afgebreek het.
“Die kwaaddoeners besef nie dat hulle die hele gemeenskap kwaad aandoen met hul optrede nie, en dit vertraag ook die proses dat die huise gebou moet word,” het Carlse verduidelik.
Hy het behoorlik gal gebraak.
“Baie mense wag al jare vir ’n huis, en noudat dit ’n werklikheid word, word dit deur ons mense afgebreek.”
Kanonkop-inwoners het uitgewys waar die stene en ander materiaal, wat gesteel word, weer verkoop word. Asla, die siviele kontrakteurs van die projek, het intussen ’n klagte aangemeld. “En terwyl tikkoppe plunder en afbreek, hoe langer gaan inwoners wag, en ek dink nie dit is regverdig teenoor inwoners nie,” het hy gesê.
Carlse het inwoners gevra om geduldig te wees met paaie wat gesluit word weens die ondergrondse opgraderingswerk wat tans gedoen word.
Die kontrakteur het ook kennisgewings uitgestuur dat Arionrylaan tot by Luckasrand vir die volgende vier maande weens opgraderings vir motoriste gesluit sal wees.


