Tikkoppe verniel kleuterskole in Atlantis en Exmeralda Carolus, die hoof van Little Pupil Daycare, sit behoorlik met haar hande in die hare.
Volgens Carolus het kwaaddoeners die skool onlangs behoorlik verniel. “Die jongens het deur die skool se dak ingekom en eers die alarm buite aksie gestel. Hulle het byna alles gevat,” het sy aan Weskus Nuus gewys.
“Die skool se elektriese bedrading is heeltemal uitgeruk en die yskaste en stowe se drade en motors is ook afgebreek,” vertel sy mismoedig.
“Die kleuterskool dien ’n baie arm gemeenskap en die kwaaddoeners doen regtig die gemeenskap ’n onreg aan,” kla Carolus. Om alles te kroon het die kwaaddoeners ná die aanvanklike inbraak teruggekom om die kinders se speelgoed te steel.
“Ons moet nou die kleuterskoolgoed by mense stoor totdat ons eendag die goed kan vervang. Die skool, wat drie keer in een week deurgeloop het, kan nie bekostig om sy deure te sluit nie,” sê Carolus. Sy sê baie plaaslike ouers is afhanklik van hul diens.
Volgens Carolus gaan die herstel van die elektrisiteit alleen duisende rande kos en moet hulle ook ander stowe en yskaste kry “wat net die Vader sal weet waarvandaan dit gaan kom”, vertel sy.
Volgens Kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, word die inbrake steeds ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.





