Politieke leiers beskou hom as “The Fixer”, maar nou het Gerrit Matthyse die wêreld van nie-regeringsorganisasies betree, vertel dié nuwe uitvoerende hoof van Orion.
Matthyse, ’n gebore Mamriër, is ná byna 30 jaar weer terug en met sy moue reeds opgerol en gereed om sy hande vuil te maak.
Hy het Donderdag 1 April amptelik die leisels by die Orion-organisasie oorgeneem en vertel opgewonde hy sien baie daarna uit om dié organisasie na nuwe hoogtes te lei.
Dié oud-onderwyser het destyds die behoefte vir volwasse onderrig met Basil Kivedo en Quinton Newman raakgesien en die Atlantis-sentrum vir volwasse onderrig (AVOS) is gebore.
Matthyse is in 1990 as die eerste uitvoerende hoof aangestel.
Dié energieke leier was ook destyds by verskillende gemeenskapsorganisasies in Atlantis en Darling betrokke en het gereeld sy stem laat hoor.
Matthyse het die onderwys ná ses jaar gegroet en in 1992 by Spoornet Orex as opleidingsbestuurder aangesluit. Agt jaar later het hy by plaaslike regeringsake betrokke geraak en by die Stad Johannesburg begin werk. Daarna was hy by verskillende munisipaliteite waar hy ingespring het om te help met struikelblokke en probleme. Een só ’n geval was by die Sentraal Karoo-distriksmunisipaliteit wat onder Matthyse se leiding as waarnemende munisipale bestuurder pas sy eerste skoon oudit in 2020-’21 ontvang het.
Die Breedevallei-munisipaliteit is onder sy bestuur in 2013 deur die destydse president, Jacob Zuma, in sy jaarlikse staatsrede as een van die top-10-munisipaliteite in die land vereer, vertel Matthyse trots.
“Ek was nooit op een plek gevestig nie, want as die een probleem opgelos is, het die volgende probleem gewag, maar ek kan jou dít verseker – ek het elke dag daarvan geniet,” sluit Matthyse af.





