Jeromeo Pietersen en Geoffrey Michaels van Proteus wys hul slag en kampioen-potensiaal.Foto: Murphy Roberts


Die tafeltennis-gogga het behoorlik in Atlantis gebyt – en byt steeds.

Alvina Bezuidenhoudt van Reygersdal Primêr, die voorsitter van die nuut­gestigte Atlantis-skoletafeltennisliga, sê dié vergete sport vat nou weer behoorlik vlam. Tafeltennis is onlangs weer bekend gestel aan skole tydens ’n rits ope dae vertel sy.

Volgens die voorsitter is gesprekke eers met verskillende mense gehou, en Sharon Lombaard, ’n voormalige Banyana Banyana-speler, het ’n massiewe rol gespeel om die wiel aan die rol te sit.

“Ons het die departement van sport en kultuursake in Maart gekontak en ’n tweedaagse werksessie bygewoon. Hier het ons alles van tafeltennis geleer en die bal aan die rol gesit,” vertel Bezuidenhoudt.

“Ek het met my skoolhoof gepraat en gevra dat tafeltennis weer by skole beoefen moet word, en soos die gesegde lui – ‘die res is geskiedenis’. Ons het tans agt laerskole en vier hoërskole betrokke en die belangstelling groei daagliks,” vertel sy opgewonde.

“Ons fokus eers net op ope dae weens die Covid-pandemie,” sê Bezuidenhoudt. “Ons kan nie nou nog druk op ouers plaas om die liga te laat begin nie, maar gelukkig verstaan die toekomstige kampioene die situasie,” verduidelik sy.

Bezuidenhoudt sê gelukkig het die meeste plaaslike skole toerusting weens die After School Game Changer-projek van die Wes-Kaapse regering, en maak dit almal se taak soveel ligter.

Lombaard sê sy het die talent van verskillende leerders gesien en besluit iets moet gedoen moet voordat dié talente verlore gaan.“Ons weet hier skuil gewis ’n kampioen onder die leerders en ons beoog ook om tafeltennis na die gemeenskap te neem met die stigting van ’n klub,” vertel sy.

Volgens Bezuidenhoudt wil hulle graag leerders se talent na die volgende vlak neem met goeie afrigters terwyl die kinders ook kans sal kry om provinsiaal deel te neem.

Die getal nuwe gesigte wat by elke opedag opdaag, maak dit ook makliker om die liga in verskillende ouderdomsgroepe te vestig, vertel sy.

“Vir eers moet ons hoop en glo dat die pandemie nie vererger en ons opedae kniehalter nie,” vertel die tafeltennis-gek juffrou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article