Aisha Seconds en Janine Passenz saam met Oom T by Survivors Haven se nuwe kantoor, wat dié legendariese inwoner aan die organisasie geborg het. Foto: Murphy Roberts


Sy stem het stil geraak, maar sy gees sal voortleef. Abdul Tajoodien, oftewel Oom T, was vir baie jare ’n vriend van Weskus Nuus en ons het oor die jare verskeie projekte saam met die ikoniese figuur aangepak. Hy was ook die koerant se grootste kritikus en in dieselfde asem sy grootste vriend. Weskus Nuus het by verskillende organisasies en leiers kers opgesteek oor hul verhouding met en herinneringe aan dié “vader van duisende”.

Janine Passenz van Survivors Haven sê: “Mr Tajoodien, soos ons hom genoem het, was nie net ’n gemeenskapsleier nie, maar ook ’n pa vir soveel mense. As SHF was ons geseënd om Oom T deel van ons te hê. Hy was nie altyd die maklikste mens nie – ons het soms sommer baie verskil en gestry, maar hy het ’n hart van goud gehad. Ons kan kliënte sien by ’n kantoor wat hy vir ons borg. Mr Tajoodien was verskriklik oor tyd; jy kon hom nooit laat wag as ons na ’n vergadering toe gaan nie. Hy ry weg, net om by die vergadering te hoor ons is ’n uur vroeg.

“Hy was one of a kind. Hy het dieselfde passie gehad oor GBV (geslagsgeweld) en ons uitgetrap as kliënte moes wag. We will treasure his memories forever. Rest In Power!

Fiona Abrahams, voormalige ANC-raadslid, sê: “Mr. Tajoodien was deel van my lewe nog voordat ek in politiek betrokke geraak het – nog in ons Jeugforum-dae. Toe ek die politieke wêreld betree, was hy nie net ’n mentor nie, maar het my as sy dogter beskou. Hy het my behoorlik op my tone gehou en toegesien dat ek deliver, en het met soveel vertroue mense na my verwys. Hy het in my geglo. Hy’t ook verskriklik baie geskel en was nie altyd ’n maklike mens nie, maar ek is baie dankbaar vir sy rol in my lewe. Woorde kan nie die leemte beskryf nie. Hamba kahle.”

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê:

“Oom T was ’n kampvegter vir die veiligheid van sy gemeenskap. Die man het nooit geskroom om ’n ding op sy naam te noem nie en sou ook nooit ’n lappie om ’n gesonde vinger draai nie, maar die belangrikste was om probleme diplomaties op te los. Sy humeur – somtyds aggressief, dog altyd vriendelik – sal gewis gemis word. Hy was legendaries en groter as die lewe. Ons het een van ons grootstes verloor; mag hy nooit vergeet word nie.”

Reagen Allen, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid en polisieoorsig, sê, “Hoewel my gedagtes en gebede in hierdie tyd by die familie is, vertrou ek hulle sal vertroosting vind in die feit dat sy nalatenskap sal voortleef deur al die GPF’s en veiligheid- belanghebbendes wat hy deur die jare geïnspireer en ondersteun het. Ons is dit nou aan Oom T verskuldig om die aflosstokkie oor te neem en saam met die regering voort te gaan om buurtwagte, GPF’s en geakkrediteerde veiligheidorganisasies te ondersteun en te ontwikkel.”

Die Atlantis-polisie het in ’n gesamentlike verklaring gesê: “As voorsitter van die Atlantis GPF was hy wel bekend aan die gemeenskap vir sy omgee-hart en aktiewe betrokkenheid by die gemeenskap deur verskeie projekte.

“Om misdaad in Atlantis en omliggende gebiede te bekamp, het hy verseker dat buurtwaglede in hul honderde kom om in brandpuntgebiede sigbaar te wees en aan gesamentlike optredes deel te neem.

“Mr Tajoodien was passievol oor goeie vennootskap tussen die polisie en die gemeenskap en wou altyd goeie dienslewering aan die gemeenskap hê.

“Hy was ’n mentor, ’n vriend, ’n vaderfiguur en ’n inspirasie vir so baie.

“Ons by Atlantis-polisiekantoor gaan hom gewis mis. Ons het soveel by hom geleer. Ongelukkig het hy ook soveel saam met hom graf toe geneem.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article