Kenny Lombard het Vrydag 26 Junie die stryd teen Covid-19 in die Mediclinic Milnerton verloor. Hier is hy saam met sy vrou, Alicia. Foto: Verskaf


“Sê vir almal dankie vir die gebede en ek is lief vir julle almal.”

Dít was volgens Patricia Lombard, suster van Kenneth (Kenny) Lombard, haar broer se laaste woorde.

Kenny (52) is Vrydag 26 Junie in die vroeë oggendure in Mediclinic Milnerton aan Covid-19 oorlede nadat hy vir byna drie weke in die hospitaal was.

Lombard, ’n bekende kaptein verbonde aan die polisie se speurtak, het voor sy dood in Tableview gewerk en het altyd uit sy pad gegaan om Atlantis ’n beter plek te maak.

“Kenny het nie net vrees by menige bende ingeboesem nie, maar was ook ’n liefdevolle pa, sportman, motorfietsryer en ’n mensemens,” vertel Patricia. “Ons almal was opgewonde dat hy dalk huis toe sou kom. Ek het Donderdagaand op die telefoon met hom gepraat en die familie kon nie glo dat hy soveel beter klink nie.”

Lombard is Woensdag 3 Junie in die hospitaal opgeneem nadat hy asemhalingsprobleme ondervind het. Volgens Patricia het dokters hom in geïnduseerde koma geplaas. “Al wat ons as familie en vriende kon doen, was om te bid,” vertel sy. Dokters het hom Donderdag 25 Junie van die ventilator afgehaal en hy het die volgende dag glo aan ’n hartaanval gesterf.

Lombard, het ook die doelhok van die Suid-Afrikaanse nasionale polisie­sokker­span vir etlike jare beman. Verder was hy die vlugvoetige heelagter van die plaaslike polisierugbyspan.

Kollegas van Lombard was Vrydagoggend steeds geskok oor sy dood en hulle is dit eens dat sy dood ’n groot leemte gaan laat. Volgens Flippie Phillips, wat lank saam met hom ondersoekwerk in Atlantis gedoen het, was hy ’n deeglike ondersoekbeampte. “Kenny het altyd tyd gemaak om na mense te luister en hy het nie geskroom om skollies aan te vat nie,” vertel Phillips. “Ek het baie by hom geleer toe ons huisbrake in Atlantis ondersoek het.”

Sosiale media het Vrydag behoorlik gegons en boodskappe van medelye het ingestroom. Hy laat sy vrou Alicia (38) en drie kinders 17, 15 en 12 agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article