Die Stad Kaapstad het bevestig dat swendelaars werkloses met aanloklike werk pakkette lokFoto: Verskaf


Swendelaars, of “scammers”, soos hulle bekendstaan, is besig om hul merk te laat, waarsku kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder.

Volgens Munro word baie inwoners uit hul geld bedrieg en kom mense te laat na die polisie. “Ons kan nie genoeg inwoners waarsku dat indien iets te goed klink om waar te wees, dit waarskynlik ’n scam is nie,” vertel sy. “Met die feestyd om die draai en almal wat ’n vinnige geldjie wil maak, raak so baie mense onbewustelike slagoffers van scams.”

Volgens die kommunikasiebeampte is inwoners onlangs veral in die dorp se sakekern met polisse ingedoen.

Die modus operandi is dat die sogenaamde “agente” inwoners oortuig hulle sal ’n koopbewys of kontant van R3 000 ontvang indien hulle ’n polis uitneem, vertel Munro. Die sogenaamde agente neem dan slagoffers se persoonlike inligting soos ID-nommer en selfoonnommer, en die slagoffers se bankkaarte word dan gebruik om die eerste paaiement te bekom, vertel sy.

“Baie inwoners maak ook hul selfoon-banktoepassing vir die swendelaars oop en sodra die geld oorbetaal word, kan dit nie weer deur die bank terugbetaal word nie,” waarsku Munro.

Munro het ook die volgende wenke gedeel om inwoners meer bedag te maak teen die swendelaars. “Die bank vra nooit vir ’n PIN nie. Hulle vra nooit vir persoonlike inligting nie –moet dus nooit inligting telefonies deel nie. Gaan eerder bank toe.”

Sy vertel die bekende Facebook Market Place is ook onder die vergrootglas: “Baie kere word mense na afgeleë plekke gelok net om beroof te word.”

Inwoners wat voel hulle is uit hul geld verkul, kan sers. Eldridge Mckenzie by 021 571 8526 of 079 893 9858 bel.

Volgens Grand Twigg, die burgemeesterskomiteelid vir stedelike-afvalbestuur vir die Stad Kaapstad, wat ook die Uitgebreide Openbare Werke-program, oftewel EPWP soos dit bekend is, se werkskeppingsprojek bestuur, is hulle bewus van skurke wat inwoners oor die hele metro met werkgeleenthede bedrieg. Volgens Twigg word werkloses op verskeie sosialemediaplatforms genooi om aansoek te doen. Twigg maan inwoners om versigtig te wees en waarsku die Stad eis geen aansoekgeld vir werk nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article