Swendelaars het die faktuur aan die vrou gestuur om die geld te betaal sodat sy die pakkie kan kry of die gevaar loop om in hegtenis geneem te word.Foto: Verskaf


Inwoners gee steeds nie gehoor aan waarskuwings oor bedrogskemas en aanlyn bedrog nie.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, word mense daagliks uit hul geld bedrieg deur verskeie aanlyn skemas en sosiale media.

Munro verduidelik dat enkelvroue nou die teiken van die bedrieërs is en klagtes word deesdae daagliks aangemeld. “Mense dink dit is maklik om die skurke vas te trek, maar dit is nie so eenvoudig nie,” vertel sy. Munro verduidelik: “Die bedrieërs teiken mense wat swaarkry om gou ’n Capitec-rekening oop te maak teen vergoeding, en sodra die slagoffer die geld inbetaal, word dit getrek en die rekening word gesluit.”

Volgens Munro is die kanse op vervolging baie skraal omdat dit in baie gevalle bejaardes is wat gevra word om die rekening te open en dikwels kan hulle nie onthou nie of weet hulle nie wie die persoon is wat hulle gekontak het nie.

“As iets te goed klink om waar te wees, moet mense egter wegbly,” maan sy.

Weskus Nuus het vertroulik verneem byna 200 sake is reeds hier uit die gebied aangemeld. Die bron het ook verklap kerkvroue word baie keer geteiken.

Die bron sê ook hier is nog honderde mense wat waarskynlik te skaam is om vorendag te kom.

Die skurke het ook onlangs die Atlantis-polisie se naam gebruik om ’n vrou te bedrieg. Die vrou, wat vir eers anoniem wil bly, is afgepers met ’n “faktuur” van die “polisie” om meer as R2 000 te betaal om ’n pakkie met tjeks af te haal, en indien sy nie betaal nie, kan sy toegesluit word.

Volgens ’n vriend van die slagoffer het die swendelaar aan haar verduidelik hy is in Engeland in die hospitaal, maar hulle behoort aan dieselfde kerk. Die swendelaar het uiteindelik met byna R3 000 weggekom en die arme vrou wag steeds op haar “pakkie”.

Volgens Munro het sy gehoor van die voorval, maar het bevestig die slagoffer het nog nie ’n klagte kom aanmeld nie omdat sy in die hospitaal is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article