Young Hearts bars deur Paternoster se verdediging nadat hy van sy eie doellyn af begin aanval het. Foto: Murphy Roberts


Paternoster het Saterdag op die Grafkelder sy kanse vir ’n oorwinning met swak dissipline gekelder en 18-21 vasgeval.

Die besoekers, wat rustyd nog 15-12 voor was, se swak dissipline het met ongeveer 10 minute se speeltyd oor die oorhand gekry en die skeidsregter het die eindfluitjie geblaas met die span sterk op die aanval. Young Hearts, wat met minder balbesit en gebiedsvoordeel oor die weg moes kom, het egter nooit teruggestaan vir die besoekers nie en rotsvas verdedig.

Ruben Abels se troepe het ook nooit geskroom om met die bal te hardloop nie en die span se tweede drie het gekom van een só beweging van sy eie doellyn af. Young Hearts was die eerste helfte ’n bietjie huiwerig en twee strafskoppe aan die besoekers binne trefafstand was egter mis, wat die verskil tussen wen of verloor kon wees.

Paternoster met ’n oorvloed gebiedsvoordeel en balbesit eerste bloed geruik met ’n onverdoelde drie. Abels se span het egter die nat toestande beter beheer en koelkop gebly.

Paternoster, wat verskeie kere meters van die doellyn was, kon dit egter weens Young Hearts se puik verdediging nie in punte omskakel nie.

Die tweede helfte het weer in die besoekers se guns begin met ’n strafskop. Young Hearts het egter koelkop gebly en die besoekers se aanslae trotseer, en met twee verdoelde drieë weer die voortou geneem. Paternoster het die naweek weer die aanvalswerk gedoen voordat ’n onsmaaklike voorval die wedstryd vroeg beëindig het. Pato, wat die wedstryd met ’n bonuspunt moes wen om weer sy tweede plek op die punteleer terug te eis, het egter Mamre toegelaat om sy plek te behou.

. Die verdedigende kampioen, Saldanha, het ná sy nederlaag verlede week teen Mamre teen Hopefield wraak geneem. Vredenburg se Burg Boys het ook weer die hand opgesteek nadat die span Langebaan geklop het.

Die volledige uitslae is: Saldanha 36-12 Hopefield; St. Helena 41-14 Koringberg; Vredenburg 42-26 Langebaan; Young Hearts 21-18 Paternoster; Piketberg 28-34 Velddrif. Die naweek se program is: Koringberg t. Saldanha, Langebaan t. St. Helenabaai, Velddrif t. Vredenburg, Paternoster t. Piketberg en Hopefield t. Mamre, terwyl Young Hearts ’n ruskans kry.

. Atlantis het Saterdag op sy tuisveld Titans 39-7 geklop, wat hom die onoorwonne streek-kampioen maak. Atlantis sal nou in die top-9 vir promosie na WP-Superliga C speel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article