Subraad 1, wat tans leierloos is, sal dalk nog ’n paar maande moet wag om te sien wie die leisels gaan oorneem.
Weskus Nuus het intussen vertroulik verneem dat die raad eers moet wag vir die tussenverkiesing in wyk 107, waar die verteenwoordiger die voormalige subraadvoorsitter Nicky Rheeder was.
Die vermoede in binnekringe is die twee plaaslike wyksraadslede sal moontlik weer oor die hoof gesien word om as subraad 1-voorsitter te dien. Die Demokratiese Alliansie (DA) het tans ses raadslede en die Cape Coloured Congress een op die subraad, met die verkiesing, wat waarskynlik in Junie of Julie sal plaasvind.
Aangesien die DA die meerderheid stemme in die raad het, word wyd bespiegel dat dit ’n uitgemaakte saak is dat nie Moosa Raise of Allister Lightburn vir die posisie geskik bevind sal word nie. Die aanklagte van bedrog en geldwassery teen Nora Grose, wat voor Rheeder die subraadvoorsitter was, is vroeër van die hofrol geskrap en die vermoede is Grose se naam sal moontlik vir haar ou possie in die hoed gegooi word.
Volgens Annestacycia Davids, Cape Coloured Congress se proporsionele raadslid in subraad 1, is dit seker dat die burgemeester wel iemand in gedagte het wat “bo kleurling-inwoners verhewe is”. Davids het haar sterk uitgelaat oor die DA se plan om die raad vir eers leierloos te laat. Sy sê subraad 1 beskik oor jong energieke bruin leiers wat die raad kan lei en “dit is mense wat die daaglikse uitdagings van die gemeenskap verstaan”.


