Cassidy Adams (21), beter bekend as Cassnura van Saxonsea, sê sy wil haar merk op kykNET maak omdat sy mense in Afrikaans wil vermaak.Foto: Murphy Roberts


“Hi daar; hi daar! Dis Cassnura. Luister, mense!” Dít is hoe Cassidy Adams elke dag mense met haar kort videos op TikTok groet.

Cassidy (21) van Saxonsea vertel sy wou nog altyd net mense laat lag. Dié tweedejaar-dramastudent aan die Northlink Kollege vertel: “Alles het gedurende die Covid-inperking begin terwyl ek eers ’n teologiestudent by Maties [Universiteit Stellenbosch] was.”

Sy sê sy het TikTok in 2021 begin. “Omdat daar meer haters as iets anders was, moes ek reeds verskeie profiele oopmaak, omdat my kanaal gou begin gewild geraak het.”

Sy is dol oor die Amerikaanse kletsrymer Drake en Nicki Minaj.

Volgens Cassnura het sy ’n video gemaak asof sy by Drake se partytjie opgedaag het omdat hy ’n ogie op haar het, en Nicki wou net haar oë uitkrap, omdat sy jaloers was op haar teenwoordigheid.

Cassnura sê dié video het skielik die aandag op haar gevestig, maar haters het haar genoodsaak om ’n nuwe TikTok-profiel te skep.

“Ek het voortgegaan met my Drake-en-Nicki-videos, en soos die spreekwoord lui – die res is geskiedenis,” vertel sy.

Cassnura sê sy het aanvanklik nie besef hoe geliefd sy geraak het nie en word nou gereeld na gesellighede genooi om mense te vermaak. “Buiten sosiale media wil ek graag my merk op kykNET maak,” vertel sy terwyl haar oë flikker van opgewondenheid. “Hollywood is nie vir my nie. Ek praat Afrikaans en wil met ander Afrikaanse mense praat. Ek is op my beste as ek mense in my moedertaal kan vermaak.”

Sy sê haar gemeenskap beteken baie, en daarom wil sy graag ’n verskil maak en help gereeld by plaaslike gemeenskapsorganisasies.

Cassnura sê sy hoop plaaslike sepievervaardigers sien haar talent en sy kry ’n rol wanneer sy klaar studeer het. Intussen sal sy aanhou om mense te vermaak en te laat lag, “want dis wat die beste uit my bring”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article