Voorsorgmaatreels vir die swaar winterreënval het gewis ’n verskil in Atlantis gemaak, sê die raadslid Allister Lightburn van wyk 29.

Verlede winter was baie inwoners in hul huise vasgekeer en motoriste moes weens die swaar reën ompaaie gebruik, onthou Lightburn.

“Ons het nou baie minder klagtes van oorstromings teenoor verlede jaar gekry. Hierdie winter-voorsorgprogram het ’n groot verskil gemaak en dit is ’n riem onder die hart – veral omdat werkers in die stormwaterstelsel moes klim om oorstromings te voorkom,” vertel hy.

Weskus Nuus het in Junie verlede jaar berig oor die oorstroming in die dorp en ons het nou ná die swaar reën gaan kyk hoe oorstromings op besige paaie met dié van verlede jaar vergelyk.

Die voormalige subraad 1-voorsitter Nicky Rheeder het destyds gesê niks was fout met die stelsel nie en rommelstrooi is as die skuldige oorsaak uitgesonder.

“Ons was egter voorbereid op die winterreënval en baie stormwaterslote onder mangate is reeds vooraf skoongemaak,” sê Lightburn.

“Atlantis het wel nog hier en daar oorstromings gehad, maar dit vergelyk glad nie met dié van verlede jaar dieselfde tyd nie.”

Die onlangse swaar reën het baie skade in ander gebiede veroorsaak, en sommige dorpe was as gevolg van stormweer glad nie toeganklik nie.

Volgens Grant Twigg, die burgemeesterskomiteelid vir stedelikeafvalbestuur, het sy departement R48 miljoen bewillig om stormwaterstelsels reg deur die metro op die reënseisoen voor te berei.

Twigg sê met die hulp van ander departemente van die Stad Kaapstad sowel as EPWP-werkers was die fokus om strate skoon te vee, rommel te verwyder, onwettige stortings skoon te maak, die installering van tydelike straatvullisdromme en om te verseker strate en hoofpaaie word skoon gehou.

“Dit het ook 1 398 tydelike werksgeleenthede geskep,” het Twigg verduidelik.

Volgens Lightburn weet hy almal kan nie gelyk tevrede gestel word nie, maar die feit dat werkers daagliks paaie en sypaaie skoon hou, maak reeds ’n verskil.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article