Hy het homself verarm om sy gemeenskap te dien en verdien die rus, sê Abdul Tajoodien, voorsitter van die Atlantis-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF), nadat Franklyn Stockenstroom ná 21 jaar groet.
Stokkies, soos hy by die Atlantis-hof bekend staan, het oor die jare berading aan dwelm- en alkoholverslaafdes gegee.
Stokkies vertel hy het nog altyd ’n liefde om mense te help, en daarom het hy nie geskroom om in die gemeenskap terug te ploeg nie. “Alles het 21 jaar gelede begin toe ek eers by die Christelike Afhanklikheid-bediening met berading gehelp het. Met verloop van tyd het ek ook baie verslaafdes in Mamre gaan sien, en hier het Tajoodien van my vrywillige werk gehoor,” vertel Stokkies.
Tajoodien het 11 jaar gelede as voorsitter van die GPF met Stokkies gepraat en “die res is geskiedenis”.
Tajoodien het ’n perseel in Mamre beskikbaar gestel en daarna is meer en meer verslaafdes bereik vertel Stokkies.
Volgens Tajoodien het gesprekke met die destydse hoofaanklaer begin sodat Stokkies ’n kantoor in die hofgebou kon kry om meer kliënte te sien. Tajoodien meen die hof het ook voordeel uit hierdie ooreenkoms getrek omdat mense met dwelm- en alkoholverwante klagtes direk na Stokkies gestuur is.
Stokkies sê die hof het ook minder ernstige oortreders na hom verwys om ’n program te volg as deel van hul straf. Daar is vele suksesstories, soos dié van ’n dwelmverslaafde wat in 2007 by hom om hulp aangeklop het. Dié man het uiteindelik sy rookgewoontes gelos en hy en die dwelmverslaafde wat sy dwelmprobleem afgeskud het, het vandag steeds nie weer hul gewoontes hervat nie.
“Ek is baie trots op ’n jong meisie wat as dwelmverslaafde by my was en vandag is sy ’n verpleegster by die Atlantis-hospitaal. Daar is baie ander wat ook sukses behaal het, maar daar was ook baie wat nie van die euwel ontslae kon raak nie,” vertel hy.
Stokkies sê hy het oor die twee dekades nooit geld vir sy dienste ontvang nie, maar hy vertel met ’n glimlag dat dit vir die liefde van die werk was. “Ons het oor die jare maar hier en daar aangeklop vir penne en ander skryfbehoeftes.
“Tajoodien was ook altyd daar indien dit nodig was. Ek weet nie wat ek nou gaan maak nie, maar as 70-jarige inwoner sal ek gewis nie net daar kan sit nie,” vertel hy.





