Meer as 400 werkers van Hisense Atlantis het Woensdag 15 Januarie begin staak.
Volgens hulle is hulle keelvol vir hul “goedkoop base” wat hulle te min betaal en boonop nou oorweeg om hul lone verder te verlaag.
Alfredo Smit, plaaslike organiseerder van die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa), is van mening dat die betrokke werkers tans R41 per uur verdien, wat minder as die vereiste minimumloon van R49 per uur is.
Volgens Ivan Solomons, ’n werker en vakbondverteenwoordiger in die fabriek, was die werkers baie geduldig met die maatskappy.
“Ons het altyd verstaan dat daar nie geld is nie, maar hulle kan nie sê dat daar jaar ná jaar nie geld vir verhogings is nie. Ons is keelvol dat werkers van Atlantis deur base uitgebuit word,” sê hy.
“Al wat ons vra, is dat hulle die vereiste minimumloon ingevolge die wet aan ons betaal, maar die base het eerder teruggekap en gesê dat lone met byna die helfte verminder gaan word.”
Die werkers wat tans by hul werksplek uitgesluit is, sê hulle gee nie om, om buite te sit en wag totdat die werkgewers “tot hulle sinne kom nie”. “Niemand gaan terugkeer na die fabriek totdat ons kry wat ons vra nie,” sê Solomons.
Werkers is woedend omdat daar glo ’n privaat sekerheidsmaatskappy en honde op die perseel ontplooi is om met wet en orde te help.
“Hulle is bereid om meer vir honde te betaal, as om vir ons te betaal,” het een van die werkers aan Weskus Nuus gesê. Volgens Solomons was kontrakwerkers “ingesmokkel” wat in die fabriek moes slaap en teen hulle sin in die fabriek aangehou is. Hy vertel dat meeste van die werkers deur vensters ontsnap en oor die heining gespring het.
. Hisense se besturende direkteur, Albert Lee, het nie op Weskus Nuus se navrae reageer nie en het ook nie sy selfoon beantwoord nie. WhatsApp-boodskappe is wel gelees, maar geen antwoord is gegee nie.


