Young Hearts het Saterdag op die Grafkelder, sy tuisveld 21-32 teen St. Helenabaai vasgeval.
Die tuisspan het die eerste helfte met die wind agter die blad goed begin en gereeld die besoekers met lang buitelynskoppe laat omdraai. Young Hearts, wat danksy drie strafskoppe 9-0 voor was, kon egter nie voortbou op sy voorsprong nie en het die besoekers die eerste 30 minute op die agtervoet gehou.
Die besoekers het egter koelkop gebly en met drie vinnige drieë kort na mekaar het die spanne gaan water drink met die besoekers 17-9 voor. Die twee spanne het mekaar daarna deeglik met skitterende agterlynbewegings en rotsvaste verdediging beproef.
St. Helenabaai het egter nooit die tuisspan toegelaat om die wedstryd te dikteer nie en elke keer as die tuisspan punte aanteken, met punte geantwoord.
Young Hearts sal ook hoop sy krukkelys herstel gou nadat die span dit Saterdag erg gevoel het. Die span moes byna die hele tweede helfte met 14 spelers oor die weg kom – weens beserings.
Die nederlaag het ook Reuben Abels se span verhinder om onder die vroeë voorlopers op die punteleer te wees. Abels en sy troepe pak die naweek die verdedigende Boland-kampioen in Saldanha en maklik gaan dit gewis nie wees nie. Young Hearts beskik egter oor die vermoë om die kampioen te skok.
Mamre het ook in sy wegwedstryd teen Velddrif 32-33 vasgeval. Die nederlaag het die groentruie uit die derde plek gedruk en hulle beklee tans die vierde plek – een punt agter Velddrif, met Young Hearts nou agtste.
Mamre, wat Paternoster eerskomende naweek onthaal, moet die tuisveldvoordeel benut en net ’n voltal punte sal die span se posisie versterk.
.Volledige uitslae:
Weskus:
Paternoster 13-21 Saldanha; Young Hearts 21-32 St. Helena; Velddrif 33-32 Mamre; Piketberg 19-25 Vredenburg; Langebaan 28-22 Hopefield.
Swartland
Wesbank 68-8 Saron; Abbotsdale 19-17 Darling; Riebeeck United 12-24 Never Despair; Goodhopes 118-0 Villagers Wittewater; Moorreesburg 26-19 Porterville.
Hierdie naweek is dit Saldanha vs Young Hearts, Hopefield vs Velddrif, St. Helena vs Piketberg, Koringberg vs Langebaan en Mamre vs Paternoster.
Vredenburg geniet ’n loslootjie.



